Die bekroonde skrywer Eben Venter woon in Australië. In sy jongste roman, My simpatie, Cerise, is Melbourne die agtergrond vir ´n beeld van die morele verval van ons tyd en van die manier waarop mense mekaar manipuleer.
Robert Mackie reageer op ´n advertensie van Cerise Cox, rykmansvrou van die casino-koning in Melbourne. Van die mooimaak van ryk mense se tuine weet hy min. Maar gesonde verstand, dié het hy.
Ná sy aanstelling as haar hooftuinier is dit egter nie nét die skoutuin – die plantskemas, randbeddings, eikegrasperk en agtertuin – waarvan hy ál meer deel word nie. Ook aan die skadu’s van die Cox-gesin kan hy nie langer ontkom nie. En soos die komposhoop, wat hy sonder Roland Cox se toestemming en medewete in die agtertuin aanhou, vir sy werkgewer in die verleentheid stel en ´n vernedering inhou, só sien Robert Mackie daagliks hoe die verrotting binne die Cox-gesin voltrek word.
Saans vertel hy vir sy geliefde die stories van sy dag. En as hy dit doen kan hy met haar toor….
Oor die skrywer sê Madelein van Biljon: “Eben Venter is sonder twyfel ´n talentvolle en belangrike skrywer wat veral deur diegene wat so ween oor die toekoms van die taal gelees moet word.”
Hy debuteer met ´n kortverhaalbundel Witblitz. Beide sy vorige romans is met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon. Foxtrot van die vleiseters is in Duits vertaal en ´n Nederlandse uitgawe van sy sterwensroman, Ek stamel ek sterwe, verskyn in 1997 by Nijgh & Van Ditmar. Hierdie roman is onlangs vir die vierde keer in Afrikaans herdruk.
Oor Eben Venter se nuutste sê George Weideman: “Ek kan my amper nie ´n Afrikaanse teks voorstel wat so veelduidig omgaan met die morele verval van ons tyd (of, beperkter gesien, van ´n glansstad soos Melbourne) as juis nie. Die uitgewer is Queillerie.
Koop My simpatie, Cerise …
