Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Hul moeder sterf aan kanker. Nou gaan die twee susters die moeder, op haar versoek, tot die einde versorg in die ou huis op die dorp(ie) Vergenoeg.
Op ´n vars manier word die keersy van die twee vroue se uiterlike blootgelê: die eksotiese Bella lei eintlik ´n armoedige lewe in Parys as sangeres in ´n nagklub, terwyl die perfek-versorgde en beheersde San ´n drankprobleem het. Dit is veral die onvermydelike konfrontasie tussen die twee susters dat hierdie ontluistering ´n belangrike rol speel om hulle met mekaar, en ook met die dood van hulle ma te versoen. Deur hulle konfrontasie met siekte en dood word hulle in direkte kontak gebring met hulleself én mekaar sodat hulle gestroop word van alle illusies.
Dit is dan veral ´n roman oor die lyflike ervaring (ook van siekte en dood). Daar is aangrypende tonele waarin die bruin vrou Dollie Plaatjies vir die siek Adèle sleep-dra na die badkamer, of San wat die liggaam van haar gestorwe ma omarm soos wat sy dit in haar lewe nie kon doen nie. Tog verstaan Marita van der Vyver hoe om met ´n ligte hand selfs die swaarste dinge aan te raak. Die sekstonele met Karel Kat – ´n vroeëre skoolkys wat Bella weer in die dorp raakloop – het steeds die lyf as fokus, maar verlig die intensiteit.
Geen mens kan hierdie boek neersit nie.
Die verhaal is aantreklik en meevoerend gewóón. Die lewe is so, en nie anders nie. Mense is so, nie anders nie. Daar is verskillende vreugdes en smarte, maar alles is gehul in goedheid. Mooi is die lewe, soos die digter sê, en die dood is mooi.
