“Some Things Are Better Out In The Open”
Die Minack-teater is een van die beste voorbeelde van ‘n buitelug- of opelugteater en ‘n besondere besienswaardigheid vanweë sy ligging en gepaardgaande natuurskoon. Dit is die bymekaarkomplek van ‘n diverse groep mense, vanselfsprekend die teatermakers maar veral dramaturge en akteurs met ‘n voorliefde vir die werk van Chauser, Shakespeare, Brönte, Schiller, (Christopher) Fry, Masefield, Dumas, Euripides en Sophocles. Die stappers, bergklimmers, argitekte, botaniste, kunstenaars, toeriste en honde (troeteldiere is welkom buite optredes) is ook daar, en veral die plaaslikes wat ‘n groot persentasie van die gehore tel want die Minack en Besoekersentrum lê aan die verste punt van die Weskus van Cornwall in die Verenigde Koningkryk en dus ver van hoofstroom aanbiedinge. Per motor 20 minute van die besige hawedorp Penzance, 15 minute van die skilderagtige Mousehole, 10 minute vanaf Lands End, 30 minute vanaf St Ives, 60 minute vanaf Truro en Newquay en sowat 90 minute vanaf die wêreldberoemde Eden Projek in Bodelva, St Austell en die produksies is net so gaaf indien nie gawer as sommige West End-produksies nie.
Met ons besoek aan die Minack het Die Ad Hoc Teater Maatskappy (spesifiek gestig vir optredes by die Minack) ‘n vrye vertaling van The Canterbury Tales – A Medieval Romp van Geoffrey Chauser (c.1343-1400) aangebied.

Die geslaagde en vermaaklike aanbieding is die tweede seisoen en sesde produksie van Chauser se verhale deur dié groep, en hoewel heelwat van die oorspronklike betekenis van die versdrama bestaande uit sowat 17 000 lyne verlore kan gaan met ‘n vrye vertaling, het gehore se reaksie getoon die pelgrims en intriges is nog net so relevant.
‘n Onbekende fragment wat moontlik deel uitmaak van dié verhale, is onlangs tydens opgrawings in die Shropshire Kerkgronde gevind en was by die vertoning ingesluit. Indien die fragment outentiek is sal dit ´n bewys wees van vroulike priesters in die 14de eeu.
Die see en rotshange sorg vir ‘n dramatiese agtergrondsdoek, die akoestiek is enige akteur se droom en die bywoningsyfers maak jou skaam want slegs in ekstreme weersomstandighede word vertonings gekanselleer. Reën tel nie onder die ekstremiteite nie en in elk geval kom jy gewapen met ‘n all-wheather-coat, piekniekmandjie (as jy nie die restaurant wil ondersteun nie) en ‘n kombers of kussing vir die hard sit. (Sambrele word nie toegelaat nie om voor-die-hand-liggende redes.) Buitendien bied die Minack slegs ‘n Somer-seisoen (16 produksies) van toneel en musiekblyspele tussen Mei en September. ‘n Herdenkings produksie van The Tempest word elke tien jaar opgevoer.
Kansellasies weens weer word uitgestel tot 7nm (13:00 vir Matinees) en uitgesaai op Radio Cornwall (103.9 Wes en 95.2 Oos).
Minack beteken klipperige plek (rocky place) en die hange en rotsskeure onder die teater was vir eeue ‘n gunsteling visvangplek. Professionele, amateur en bedryfsteater het almal sy plek op die beroemde klipverhoog. Die teater spog met lae kaartjiepryse, gehalte produksies en voortdurende instandhouding en opgradering van die teater.
“.must eat my dinner. This island’s mine, by Sycorax my mother, 390 Which thou takest from me. When thou camest first, Thou strokedst me and madest much of me, wouldst give me Water with berries in’t, and teach me how To name the bigger light, and how the less, That burn by day and night: and then I loved thee 395 And show’d thee all the qualities o’ the isle, The fresh springs, brine-pits, barren place and fertile: Cursed be I that did so! All the charms Of Sycorax, toads, beetles, bats, light on you! For I am all the subjects that you have, 400 Which first was mine own king: and here you sty me In this hard rock, whiles you do keep from me The rest o’ the island.”
– die karakter Caliban, The Tempest, Act I, Scene II – Die Eiland.
Die Minack is die breinkind van Rowena Cade, ‘n eksentrieke vrou wat baie herinner aan die uilvrou van Nieu-Bethesda. Vanaf 1931 tot met haar dood in 1983 is die Minack-teater beplan, gebou en gefinansier deur Cade. Gebore in Spondon, Derbyshire op 2 Augustus 1893 maak Cade op 8-jarige ouderdom haar debuut in ‘n produksie van Alice Through the Looking Glass. In haar jong leeftyd was sy akteur, kostumier, dekorskilder en rekwisietemeester. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Rowena gehelp met die inbreek en uitskeep van perde na Frankryk en België. Na die oorlog en met haar pa dood, is die huis in Cheltenham verkoop en het Rowena en haar ma ‘n sigeunerbestaan gevoer voor sy die Minack Hoogland vir £100 gekoop en ‘n huis laat bou het met graniet afkomstig uit St Levan. In die twintigerjare moes mense in die Weste van Cornwall vir hulle eie vermaak sorg en so is amateurproduksies van A Midsummer Nights Dream en The Tempest in 1929 opgevoer voor waarderende en vinnig groeiende gehore. The Tempest was so gewild dat die produksie weer in 1930 aangebied is, en in Cade se agterplaas (vandag ten dele bekend as die Minack-teater). Dit het ses maande se handearbeid tussen Cade en twee handlangers uit Cornwall geverg om die eerste basiese verhoog en sitplekke uit te lê. Beligting vir dié opvoering is voorsien deur motorligte en kragdrade wat aangelê was vanaf Cade se huis.
Verbeterings en aanbouings het sewe jaar geduur maar tot stilstand gekom met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Die Weermag, Gainsborough se filmspan en krygsgevangenes het Cade se werk gereduseer tot amper niks. (Die eerste Love Story met Stewart Grainger en Margaret Lockwood is ten dele by die Minack verfilm.) Met die hulp van Billy Rawlings (hy sou vir die volgende klompie jare Cade se tweede helper en mede bouer word) het sy die teater van haar agterplaas geskei deur middel van granietmure, ‘n pad en parkeerarea en sowat 90 trappe van en na die strand en die werk aan die teater hervat. Met Rawlings se dood in 1966, het Cade ‘n inskripsie in een van die graniet sitplekke laat aanbring – ‘n soort grafsteen vir haar vertroueling van amper twintig jaar.
Cade het ‘n tegniek ontwikkel om die kostes van graniet te oorbrug, inskripsies en dekorasies in die nat sement aangebring voor dit kon droogword, eiehandig sand van die strand aangery of in sakke op haar rug aangedra en die grootste bouwerk aan die kleedkamers wat in 1955 voltooi is, hanteer.
Geld vir die lopende kostes was daar nie. Cade moes dikwels kostes self dra afkomstig uit haar persoonlike rekening. Die Minack-teatervereniging (1959-2000) en die Vriende van die Minack Teater (lidmaatskap beloop £10 per jaar) het gehelp met die administrasie.
In 1950 nader sy ‘n Londense dramaskool en die National Trust vir befondsing maar sonder sukses. In 1976 skenk sy die teater vir ‘n welsynsorganisasie in die hoop dat hulle haar werk sou voortsit en die teater lewend hou. Die teater is as trust geregistreer, ‘n besoekersentrum deur die trustees gebou (funksioneer heeljaar), teater-seisoen verleng en die kleinhandel been van die organisasie vergroot.
Wat begin het as ‘n stokperdjie, ‘n tuinprojek, het ontwikkel tot een van die grootste en bekendste teater venues in die noordelike halfgrond met ‘n somer seisoen van toneel, musiek en ‘n wye verskeidenheid wat wissel van komedie, tragedie, blyspele en moderne produksies.
Cade is op 26 Maart 1983 in die ouderdom van 89 oorlede. Ander beroemde en bekende Cornwallers is die digter Thomas Hardy, William Golding (gebore in Newquay, Cornwall in 1911, skrywer van Lord of the Flies en wenner van die Nobelprys vir Letterkunde in 1983), Daphne Du Maurier (beroemde romanskrywer) en Emily Hobhouse (afstammeling van Biskop Trelawny, gebore in St Ive in Oos Cornwall in 1860 en maatskaplike werker betrokke by sosiale en politieke hervorming (veral in Suid-Afrika tydens die Anglo Boere-Oorlog).
As jy op reis is of Cornwall in die toekoms besoek, maak die Minack en Porthcurno deel van jou reis.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
