Terwyl die eendstert punt in die wind rustig duik vir kos op die dam, speel die kleintjies in die vlakwater en skep met handgemaakte nette die kleinvissies teen die kant. Oral is visstokke in die water soos die manne die grote vir die dag aan die hoek probeer kry. Ben, sy seun Rohan en Ben se broer Buks kry die rubberbootjie in gereedheid om met die een-perdekrag-motortjie op die dam te prober swartbaars hengel. Met verskillende kleure vliegies en ander kunsaas, gebrandmerkte rugbyspan pette en iets vir die dors, vertrek hulle vanaf die kant.
Hulle gooi kort-kort die kunsaas in en katrol dan met rukbewegings stadig in om die aandag van die visse te kry. Rohan gooi weer in nadat hy die kleur van kunsaas verander het maar die aas land nie in die water voor hom nie en met ‘n kreun en sy hand geklem om sy oor bulder Buks ‘n kragwoord. Rohan draai verdwaas om en aanskou die katastrofe hier langs hom in die bootjie maar lag so dat hy nie in staat is tot ’n woord of beweging nie. Ben wat in beheer is van die stuur van die bootjie ruk so dat hulle gevaarlik heen-en-weer- kantel, want Rohan se kunsaas is netjies dwarsdeur die boonste deel van Buks se oor gehaak. Buks skaterlag nou ook saam toe hy besef wat gebeur het. Hy was onder die indruk dat sy broer Ben ‘n byt gehad het en met die oppluk van die stok hom teen die oor geraps het.
Rohan kom eindelik tot sy sinne en deur die lag vra hy vreeslik om verskoning, terwyl hy die goedversierde oor ondersoek. Buks verseker hom egter dat dit nie seer is nie en toe Ben tot verhaal kom na sy rukkende hoes en lagbui, bekyk hy ook die oor en met ‘n “toemaar boet die hoek is regdeur, ons sal hom kan uitkry” draai hy weer om sodat Buks nie die uitdrukking op sy gesig kan waarneem nie, want hierdie is skreeusnaaks. Weer kantel die bootjie gevaarlik en nadat Ben sy plek agter die stuur ingeneem het, vra hy vir Rohan of daar ’n kniptangetjie aan boord is waarop Rohan, wat hom nou al in ‘n ander bloedgroep in gelag het, ontkennend antwoord. “Ons sal eers aan wal moet gaan Boet” laat Ben van hom hoor.
By die wal gekom, klim hul versigtig uit en Rohan steun die lyn wat deur sy oom se oor pronk. Dit neem nie lank voor ’n massiewe skare met kameras nader staan nie. Almal bekyk die petalje en toon meegevoel met Buks, maar in plaas van die hoek te verwyder, gaan haal Rohan die weegapparaat en hou dit voor Buks se neus om die perfekte fotote neem. Nadat hulle die hoek eindelik geknip en verwyder het, versoek Buks om die foto’s te sien en die skreeusnaakse gegiggel begin weer reg van vooraf.
Die bestuur van betrokke dam het aanbeveel dat hulle die foto na StyweLyne stuur met die naam van die visstok, katrol en kunsaas met: beste vangs vir die dag, ongeveer 75kg – spesie: homosapien – tyd gevang: laatmiddag.