David Carradine 1936 – 2009

Die Amerikaanse akteur David Carradine is dood aangetref in sy hotelkamer in Bangkok.

‘n Thaise koerant, The Nation, berig dat hy met ‘n tou om sy nek en ander liggaamsdele gevind is en dat die polisie vermoed hy het selfmoord gepleeg. ‘n Ander koerant, die Bangkok Post, berig dat hy met skoenveters om sy nek en penis gevind is en dat dit moontlik ‘n geval van outo-erotiese versmoring was. Sy familie glo ook dit was ‘n ongeluk. Hy was 72 jaar oud.

Carradine was in Thailand vir die verfilming van die rolprent Stretch. Sy loopbaan het nuwe lewe gekry, nadat hy die rol van Bill in Quentin Tarantino se Kill Bill gekry het. Dit het hom soos ‘n handskoen gepas, want vir die Amerikaners was Carradine nog altyd die ou van die TV-reeks Kung Fu. Hy het ook die hoofrol vertolk in die TV-reeks Shane.

David Carradine (regte naam John Arthur Carradine) was egter veel meer as die stil en stemmige man wat kon Kung Fu doen. Hy was die seun van die gevierde Amerikaanse akteur John Carradine. Die jong Carradine het formele drama-opleiding ontvang aan die San Francisco State College en het sy loopbaan in die teater begin, op Broadway. In 1965 het hy die Theatre World-toekenning ontvang vir die beste debuut. Hy was ook ‘n bedrewe skilder en beeldhouer.

David CarradineDavid Carradine sal veral onthou word vir sy rolle in Martin Scorsese se Boxcar Bertha (1972), Death Race 2000 (1975), Cannonball (1976), Bound for Glory (1976), in Ingmar Bergman se The Serpent’s Egg (1977), Kill Bill: Vol. I (2003) en Kill Bill: Vol. II (2004). Suid-Afrikaners sal hom nog weer sien in Crank: High Voltage (2009).

David Carradine word oorleef deur sy vyfde vrou Annie Bierman en sy twee dogters, Calista Miranda en Kansas.

(foto lukeford.net)


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar