G-Force herinner aan G.I. Joe: The Rise of Cobra, net met meer hare, baíé meer hare.
‘n Klomp marmotte, ‘n mol en ‘n vlieg moet ‘n mal, ryk man keer om die wêreld oor te neem met ‘n leër huishoudelike toestelle.
Dit laat mens dink dat daar ‘n fyn lyn lê tussen fantasie en absurditeit. Gelukkig hoef mens nie jou kop hieroor te breek met G-Force nie. Hierdie geanimeerde knaagdiertjies wil duidelik die kinders, groot of klein, vermaak.
Aanvanklik beloof die film opwinding en ‘n lekker storie en jy vrees dat al wat ‘n laerskoolkind is ‘n marmot gaan wil hê na die tyd. Die regisseur sukkel egter om die klein diertjies waarlik bemind te maak.
Dit is moeilik om te sê vir wie hierdie fliek bedoel is. Die grappies klink asof dit op tieners gemik is, maar marmotjies is gewoonlik gewild onder laerskoolkinders. Kleuters sal ook van die diertjies hou, maar die storie is bietjie ingewikkeld vir hulle.
Op ‘n tegniese noot moet dit genoem word dat die rekenaaranimasie baie goed is. Dit is maar Hoyt Yeatman se tweede film as regisseur, hy is eerder bekend as ‘n spesialis op die gebied van spesiale effkete. Die aksieverslaafde vervaardiger Jerry Bruckheimer se invloed is ook duidelik sigbaar in die eindproduk.
Die storie is uiteindelik voorspelbaar, maar met een of twee verrassings en volop aksie. Goeie vermaak vir kinders, maar pa en ma kan verveeld raak.
Met: Will Arnett & Bill Nighy
Regisseur: Hoyt Yeatman
bydrae: JM
2½ / 5
26 Augustus 2009
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
