Dit is seker onnodig om te noem dat enige kritiese beskouing van G.I. Joe: The Rise of Cobra ‘n mors van tyd is.
Kinders beskou G.I. Joe: The Rise of Cobra gewoon as vermaak. Dit verskoon natuurlik nie die oppervlakkigheid nie, maar vermaak is dit beslis. Dis nou wanneer dit nie totaal absurd raak nie.
As Boeta as peuter te veel braaivleisrook inasem en tussendeur slukkies van pappa se polisiekoffie neem, gaan hy nooit eerste staan in sy klas nie. Maak nie saak of jy sy klere ten minste een maal per maand was en sy hare kam nie. Al sit mamma nagte om met hom in graad 12, sodat hy ten minste “braaivleis” kan spel, dit sal niks help nie. Boeta sal Boeta bly en al wat hy ooit suksesvol sal bemeester is line dancing.
G.I. Joe is Boeta. Plaas hulle hom los laat hy die terroriste op hulle maai gee, probeer die regisseur Stephen Sommers en die skrywer hul beste om die spulletjie intelligent te laat lyk. Die film probeer slim wees en hoe harder dit probeer hoe meer absurd lyk die gedoente.
G.I. Joe is nie net een Boeta nie, dis die hele derde rugbyspan. Hulle probeer ons wysmaak die spulletjie is ‘n hoogs opgeleide militêre eenheid met elke gadget waarvoor ‘n mens kan wens. Dit keer hulle natuurlik nie om met ninjaswaarde te baklei nie. Maar dit is mos wat mens verwag van Boeta. Die film bied vele soortgelyke oomblikke.
Die redegering is van so ‘n aard dat mens wonder of hulle werklik omgee of ons enige belangstelling in die storie het, behalwe vir die spesiale effekte.
Selfs as oppervlakkige vermaak sukkel G.I. Joe om die mas op te kom.
Met: Sienna Miller, Marlon Wayans & Dennis Quaid
Regisseur: Stephen Sommers
bydrae: JM
2½ / 5
14 Augustus 2009
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
