Getroud met rugby – volgende jaar elke weeksaand op TV


kykNET is baie opgewonde om aan te kondig: Die uiters gewilde dramareeks Getroud met rugby sal vanaf 4 April 2016 in Villa Rosa se tydgleuf van 18:30 elke weeksaand op kykNET, DStv-kanaal 144, as nuwe sepie op die kassie wees.

Ná ’n deeglike tenderproses het kykNET al die voorstelle noukeurig oorweeg. Kykers se groot entoesiasme vir dié reeks het egter die deurslag gegee en uiteindelik was dit ’n eenparige besluit om hierdie gewilde drama in ’n sepie te omskep met halfuur lange episodes wat elke weeksaand om 18:30 uitgesaai sal word.

Karen Meiring, M-Net: Direkteur van Afrikaanse kanale, is baie opgewonde oor dié nuwe era van Getroud met rugby: “Rugby lê die meeste Suid Afrikaners so na aan die hart en daarom glo ons die leefwêreld rondom dié sport sal altyd relevante en boeiende stories kan vertel!”

Getroud met rugby is ’n kykNET-suksesverhaal wat geen bekendstelling nodig het nie. Dié dramareeks is een van die gewildste reekse wat nog ooit deur kykNET aangebied is.

Gevolglik het kykNET besluit om Deon Opperman, skepper en vervaardiger van dié trefferreeks, opdrag te gee om Getroud met rugby in ʼn nuwe kykNET-sepie te omskep wat al die kragtigste elemente van die Getroud met rugby-dramareeks behou, maar ook voldoen aan die vereistes van ‘n goeie sepie – vermaak wat die hele gesin saam kan kyk. Kykers kan dus uitsien na ’n daaglikse dosis Getroud met rugby vir oud en jonk.

“Ná vier suksesvolle seisoene van Getroud met rugby as dramareeks, was dit vir my, as skrywer en vervaardiger, fantastiese nuus toe kykNET laat weet hulle besluit het om die reeks as sepie aan te bied. Nou kan die karakters – geliefde ou gesigte asook nuwes – elke dag bietjie dieper in die kykers se harte inkruip,” sê Opperman.

Gewilde karakters van die dramareeks sal steeds hulle plekke vol staan in die geselskap van ’n hele opwindende span nuwe rolspelers, onder andere ’n hele gesin met pa, ma en vier kinders van ouderdom 16 tot 24, asook drie nuwe getroude paartjies.

“Kykers moet hulle eie lewens in dié van die karakters van ’n sepie kan herken”, het Opperman gesê. “Daarom was dit vir my belangrik dat ons baie groter klem lê op gesinslewe; op die rol van ouers in die gesin; op die drome, aspirasies en frustrasies van die vrouens wat met die spelers getroud is of hulle ma is; en natuurlik al die noodsaaklike elemente van ’n sepie: liefdesverhoudings, intriges, ambisie, lewensdrome, teleurstelling en sukses. In ’n neutedop – die klem val baie meer op die “getroud”-aspek van Getroud met rugby, as op rugby. Daar sal ook beslis geen handeling of dialoog wees wat ’n gesin aanstoot kan gee nie. Dit gaan oor lekkerkyk en vermaak. ”

Die medevervaardiger en hoof- uitvoerende beampte van Opperman se produksiemaatskappy, Soné Combrink, se werk is vir haar uitgeknip. “Die kantoor is soos ’n treinstasie,” sê Soné met haar kenmerkende glimlaggie in die oë. “Met oudisies wat gehou word om aktrises en akteurs vir al die nuwe rolle te vind, stelle wat ontwerp en gebou word, kostuumontwerp vir elke karakter, en die aanstel van tegniese personeel en regisseurs. Die skryfspan is reeds onder Deon se leiding hard aan die skryf en ontwikkel aan storielyne.”

Getroud met rugby is vanaf 4 April 2016 om 18:30 elke weeksaand op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Getroud met rugby
Getroud met rugby

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar