’n Skreeusnaakse kans ontmoeting tussen ’n kaalnaeler en paramedikus, skep die perfekte agtergrond vir ’n romantiese komedie wat tans in Oos-Londen verfilm word en op Erfenisdag 2020 in rolprentteaters bekendgestel gaan word.
Kaalgat Karel, wat vervaardig word deur Boondogle Films se Paul Egan en Meg Rickards (wat ook die regisseur is), vertel die verhaal van Karel Venter – ’n kaalnaeler wat die ongewenste aandag wat sy aksies by sportgeleenthede kry geniet! Hy raak halsoorkop verlief op die paramedikus wat hom red nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop, maar daar is een probleem; sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.
“Paul was nuuskierig oor hoekom iemand iets so mal sal doen as om kaal te nael by sportbyeenkomste en ook oor hoekom die skare dit klaarblyklik so geniet, al ontwrig dit die wedstryd,” verduidelik Meg. “So, ons het toe begin navorsing doen oor kaalnaelers en wat hulle opgewonde maak. Ons het toe gewonder wat sou gebeur as so iemand verlief raak op iemand wat glad nie hulle doen en late goedkeur nie. Dit het ons laat dink aan sosiale media en hoe dit ’n ‘verbintenis’ tussen twee mense skep – maar is ’n virtuele verbintenis genoeg?”
Paul en Meg het baie nou saam met Christa Schamberger gewerk om die rolverdeling te doen en het oudisies gedoen om te kyk watter akteurs by mekaar aanklank vind en hoe hulle saam werk. Dit het baie goeie vrugte afgewerp, want die rolprent spog met ’n onverbeterlike span akteurs.
Francois Jacobs (Donkerland, Vir die Voëls, Pad Na Jou Hart) is te sien as Karel; Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel, Sara se Geheim) as sy vriend en kamermaat Flip; Christia Visser (Tess, Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood in my Huis) as die streng enkelma en paramedikus, Rita; Siv Ngesi (Knuckle City, 24, Black Sails) as Vuyo, Karel se kaalnael-teenstander; bekende grapjas en sanger, Tracey-Lee Oliver as Rita se kollega en Eden Classens as die glansryke plastiese chirurg, Jean-Pierre du Toit.
Rosebelle Clasen, dogter van die vermaakpaar, Neels en Eloise Clasen, maak ook haar debuut op die grootskerm in die rol van Bella, Rita se dogter.
“Baie van die gasrolle is eers in die Oos-Kaap gevul en ons is stomgeslaan oor die talent en die entoesiasme van die mense in hierdie gedeelte van die land,” sê Meg.
Kaalgat Karel word tansverfilm en sal vanaf September in bioskope wees. “Die tydsberekening is beplan,” verklap Meg. “Alhoewel die fliek ’n stoute sin vir humor het, lewer dit ook subtiel kommentaar op ons kontemporêre Suid-Afrika. Dit is trots Suid-Afrikaans en verjaag die gewone negatiwiteit deur klem te plaas op ons mense se onsterflike optimisme, goedhartigheid en deursettingsvermoë.”
Boondogle Films spesialiseer nie net in rolprente wat die algemene persepsie oor ons land uitdaag nie, maar is ook passievol daaroor om vir opkomende filmmakers geleenthede te bied. Vir hierdie rolprent is mede-vervaardiger, Noxolo Nelana van Nelana Media House in Oos-Londen, in beheer van opleiding geplaas.
“Ons neem ’n hele paar mense onder ons vlerk en is opgewonde daaroor om opleiding te verskaf wat sal help om die rolprentbedryf in die Oos-Kaap uit te brei,” deel Meg. “Dit is een van die land se armste provinsies en die plaaslike regering werk hard daaraan om die rolprentbedryf hier te vestig om die ekonomie te stimuleer en werk te skep.”
Buiten vir Kaalgat Karel, het dié maatskappy ook nog ’n paar ander projekte in die pyplyn, insluitend Borderlines, ’n Britse produksie; Snake, ’n rolprentverwerking van Tracey Farren se boek; Strumming High, ’n hoërskool-liefdesverhaal in Xhosa deur Mustapha Hendricks; en die komedie Pensioners’ Day, wat ook deur Mustapha Hendricks geskryf is.
Kaalgat Karel is ’n pragtige liefdesverhaal wat aanklank sal vind by alle ouderdomme. Dit word vervaardig in samewerking met kykNET, die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie (OKOK), die -Kaapse provinsiale kuns-en-kultuurraad (ECPACC), Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en handelsmerkvennote Galito’s, Red Alert en die Hathaway-gastehuisgroep. Die fliek word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 24 September 2020.