Gestel ene Steve Hofmeyr se vlytige mamma het op 29 Augustus 1964 ‘n tydkapsule gehekel om sy aankoms te vier. Gestel nou hulle torring die kapsule los met sy mondigwording en tussen die koerantuitknipsels oor Suid-Afrika se verbanning uit die Olimpiese Spele en die gebruiklike klossie hare is daar ‘n lys van alles wat die jong Steve nog gaan doen. Sy CD’s, DVD’s, films, TV-programme, hofsake, selfs die name van al die vrouens saam met wie hy sal slaap.
Indien bogenoemde vrae kompleks voorkom moet jy nie eens daaraan dink om Knowing te gaan kyk nie. Indien jy op die stadium vermoed dat Knowing iets met Steve Hofmeyr te doen het moet jy nie eens verder lees nie en verskaf ek graag hierdie handige skakel na die Huisgenoot se webwerf vir meer gepaste leesstof.
Knowing kan jou dalk laat dink oor wat jy sou doen. Hoe jy jou lewe ssou verander indien jy van voor af kon begin. Dit neem egter nie lank voor die fliek jou begin verwar nie.
Knowing se storie begin by ‘n klein dogtertjie Lucinda – wat lyk asof sy spoke kan sien. Sy skryf ‘n blad vol syfers in 1959. In 2009 bring Nicolas Cage se seun die blad huis toe van die skool af. Cage speel die rol van ‘n slim wetenskaplike wat in sy dronkenskap (anders sou dit natuurlik te maklik wees) raaksien dat die syfers al wat ‘n ramp is van die afgelope 50 jaar voorspel het. En alles is nou baie duidelik vir Cage, *HKGK!
Jy kan dalk verwag, en met rede, dat Knowing verder ontaard in jou tipiese ramp-fliek. Rampe is daar wel, maar dit is nie al nie. Dit wat volg is ‘n half-religieuse, semi-wetenskaplike, Survivor-ige potpourri van snert, opgedis as roomys, maar sonder die Flake in die middel.
Sou mens meer verwag van regisseur Alex Proyas? Dit is omtrent op dieselfde vlak as sy I, Robot (2004), maar beslis nie The Crow (1994) nie.
Met : Nicolas Cage
Regisseur : Alex Proyas
3 / 5
5 Julie 2009
bydrae: JM
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
*Hier Kom Groot Kak
