Mona Lisa Smile

Met: Julia Roberts & Kirsten Dunst
Regisseur: Mike Newell

Katherine Watson (Julia Roberts) verhuis na New England om kunsgeskiedenis aan te bied by ´n kollege. Sy hoop om haar studente te leer dat daar meer is aan die lewe as om ´n goeie huisvrou te wees. Teen die einde leer hulle vir haar dat daar meer is aan die lewe as om ´n professor te wees. Is dit nie te oulik nie? Vinger-in-die-keel oulik.

Mona Lisa Smile is ´n ellendige stuk werk wat maar kon gebly het, want ons het hierdie storie al oor en oor gesien op die silwerdoek. Dit voel asof die skrywers se idees in ons kele afgedruk word. Dit is soos iemand wat jou vasmaak en dwing om ou Huisgenote uit die sewentigs te lees.

Die karakters het geen diepte nie en is almal uitgeknipte eendimensionele poppe.

Die film sal seker goed doen, want daar is ´n rede hoekom Julia Roberts sakke vol geld ontvang vir elke fliek. Is dit nie tyd dat vervaardigers staak om, met behulp van "sterre", sulke twak aan ons af te smeer nie?

4/10

Lewer kommentaar

Leave a Reply