RSG en Sanlam bekroon ses Radiodramas

Die wenners in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2005 is pas bekend gemaak. Die 130 dramas wat ingeskryf is, is die derde meeste sedert dié wedstryd in 1997 van stapel geloop het.

In die afdeling vir gevestigde skrywers waar Gautengers verlede jaar koning gekraai het, is die wenners dié keer almal van die Wes-Kaap – so ook die eerstepryswenner van die afdeling vir beginners – met die gevierde George Weideman van Bellville en Alet Möller van Franschhoek aan die spits.

Terrance April, bestuurder: programme van RSG, is opgewonde oor die gehalte van die dramas. Hulle beoog om al die weninskrywings uit te saai en moontlik ook van die ander verdienstelike dramas.

Totale prysgeld van R44 000 was op die spel. Afgesien van die kontantpryse wat hulle toeval, word die skrywers wie se werk uitgesaai word, teen die bestaande RSG-skale van RSG daarvoor vergoed.

‘n Buite-paneel het die volgende as die mees verdienstelike dramas aangeslaan:

Afdeling A (ervare radioskrywers)
1ste MOORD IN DIE ATELJEE, George Weideman (Bellville)
2de NAT VROU IN MY KOP, Niel Steenkamp (Bellville)
3de DIE KAT EN DIE KOK, Hans Oosthuizen (Oudtshoorn)

Afdeling B (gerig op die ontginning van nuwe talent)
1ste KAT, Alet Möller (Franschhoek)
2de DIE VYFJAARPLAN, Louis Lategan (Kroonstad)
3de AS DIE MURE ORE HET, Angelique Liebenberg (Doornpoort, Pretoria)

In die beginnersafdeling is die skrywers van die nege beste tekste by ‘n tweedaagse slypskool gehelp om aan hul tekste te skaaf voordat dit vir finale beoordeling voorgelê is.

‘n Aankondiging oor volgende jaar se kompetisie kan binnekort verwag word.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar