Richard Attenborough oorlede

Richard Attenborough is gister oorlede in die ouderdom van 90 jaar na ‘n lang siekbed. Attenborough was ’n beroemde akteur voor hy ’n duidelike merk gemaak het as regisseur.

Jong gehore ken Attenborough se gesig uit films soos Jurassic Park (1993) en as Kriss Kringle in Miracle on 34th Street (1994). Hy het hom egter lank reeds in Brittanje onderskei as akteur op die verhoog, TV en in films voor die res van die wêreld hom ontdek het. Probeer gerus Brighton Rock (1947) uit die era.

In 1963 ontdek die res van die wêreld hom in The Great Escape. Guns at Batasi (1964), The Flight of the Phoenix (1965), The Sand Pebbles (1967), Doctor Dolittle (1968) en 10 Rillington Place (1971) word ook aanbeveel. Hy het twee Golden Globes en drie BAFTA-toekennings as akteur gewen.

Hy sal egter onthou word as die regisseur van Ghandi (1983). Die film het aan hom verskeie toekennings besorg, onder andere ’n Oscar en BAFTA. Een van sy vroeër pogings, A Bridge Too Far (1977), was baie gewild, Suid-Afrikaners sal ook Cry Freedom (1987) onthou, en Shadowlands (1993) het aan hom ’n BAFTA-toekenning besorg.

Lewer kommentaar

Leave a Reply