Met: Annette Bening, Meg Ryan, Debra Messing, Jada Pinkett Smith, Candice Bergen, Eva Mendes, Carrie Fisher & Bette Midler
Regisseur: Diane English
The Women gaan dalk nie enige Oscar-toekennings wen nie, maar dit is beslis dié film oor vroue van die afgelope tyd.
Die film is gebaseer op ‘n verhoogstuk wat meer as 70 jaar oud is en dit het al vantevore, in 1939, op die silwerdoek ‘n draai gemaak. Die gaan oor die lief en leed van ‘n groep welgestelde vriendinne wat steeds na liefde, geluk en vriendskap streef. ‘n Belangrike deel van hul lewe is om die jongste skindernuus by die naelpoetser te hoor, tot die nuusdraer eendag vertel dat een van die vriendinne se mans ‘n verhouding het met die meisie by die parfuumtoonbank. Die vet beland behoorlik in die vuur met die een krisis na die ander wat volg. Verraad, wraak en selfs swangerskap volg.
Meg Ryan is weer met ons na ‘n lang afwesigheid. Sy wys hoekom sy vir lank ‘n vet tjek kon eis vir haar rolle. Annette Bening bly ook nie agter nie en lewer een van haar beste vertolkings in ‘n lang tyd, asook die beste van die rolverdeling. Debra Messing is haar komiese self en Eva Messing smeul agter die parfuumtoonbank. Dit is egter Candice Bergen wat die kalklig steel as die ma met die “wyshede”.
Annette Bening, Jada Pinkett Smith, Meg Ryan, Debra Messing en Eva Mendes
The Women se sukses is te wyte aan regisseur Diane English wat ook vir die teks verantwoordelik was. Dit is haar debuut as filmregisseur, maar sy is ‘n ou hand van TV. Sy was onder andere verantwoordelik vir Murphy Brown. Dit is duidelik tot die film se voordeel, want sy handhaaf ‘n goeie pas, soortgelyk aan TV, en sorg dat die fokus op die teks bly.
English het ‘n goeie verwerking van die teks gedoen, maar hier lê die film se swak plek. Op een stadium maak sy ‘n sprong uit die hede na die toekoms sonder waarskuwing. Voor jy jou oë uitvee is alles weer reg en almal gelukkig. Dit voel asof jy iewers aan die slaap geraak het en ‘n deel van die storie vir jou verlore is.
The Women bly egter goeie vermaak en skop stof in die oë van Sex and the City.
7½ uit 10
skrywer: JM

Het dit gesien. Jy som dit mooi op. Al wat jy uitgelaat het is dat mens snot en trane huil.