Vir Altyd kaartjie verkope open vandag

Suid-Afrikaners kan vanaf vandag om 12h00 via Ster-Kinekor, die verspreider van die film, kaartjies bespreek vir die nuwe romantiese avontuurfilm Vir Altyd, wat op 12 Februarie 2016 landswyd in teaters in Suid-Afrika uitgereik word.


Net soos in die geval van die lokettreffer Pad na jou Hart, vertolk Ivan Botha en Donnalee Roberts die hoofrolle, en het hul weer saamgespan om die rolprent te skryf en mede-vervaardigers te wees deur hul produksiemaatskappy 17StreetMedia Films.

Pad na jou Hart was een van die mees suksesvolle Suid-Afrikaanse films nog en het meer as R11 miljoen by die plaaslike loket verdien.

Vir Altyd is ‘n romantiese avontuurfilm wat die verhaal vertel van Nina (Donnalee Roberts) wat in sprokiesverhale glo maar wie se verloofde Retief (Stiaan Smith) haar op haar groot dag – wat sy al van kindsbeen af beplan – voor die altaar los.

Na ‘n aand van wilde partytjie, as gevolg van skok en hartseer, oorreed Nina vir Hugo (Ivan Botha) om saam met haar na Mauritius te gaan omdat sy steeds wil wittebrood hou – ten spyte daarvan dat sy hom nie vir tien jaar gesien het nie.

Nina en Hugo was beste vriende as kinders en tieners, maar na ‘n tragedie verlaat Hugo die land en keer eers terug na sy tuisdorp, die Paarl, op die vooraand van Nina se troue.

Dit is in Mauritius waar Nina en Hugo twee getroude paartjies ontmoet wat hul vertroue in die liefde stelselmatig begin herstel – maar wat ook ou wonde oopkrap wat genees moet word.

Saam gaan Nina en Hugo op ‘n avontuur wat hul laat besef dat liefde nie net gaan oor die wit rok en die groot dag nie, maar dat elke dag ‘n geleentheid is om liefde vir altyd te laat voorbestaan.

Die rolprent is in die prentjiemooi Paarl in die Wes-Kaap en op die eiland van liefde, Mauritius, verfilm.

Soos in die geval van Pad na jou Hart, het dieselfde filmspan aan die rolprent gewerk, met Jaco Smit weer aan die stuur as regisseur en Danie Bester as mede-vervaardiger.

Vir Altyd is ‘n film wat tot elke mens sal spreek wat al liefde in hul lewens ervaar het en soms wonder hoe om die sleutel tot ‘n goeie verhouding te vind en te bewaar.

Vir Altyd word op 12 Februarie 2016 landswyd in teaters in Suid-Afrika deur Ster-Kinekor Entertainment vrygestel.

http://www.sterkinekor.com/#/info/7858/Vir%20Altyd/

Vir altyd
Vir altyd

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar