Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Hou op
Hou op
om my te vertel
hoe wonderlik
ek is
terwyl jy eintlik
my hele menswees
probeer
verander.
Jy torring aan ‘n Sagittarius.
My sterre sal
met vlamme van vuur
jou gedagtes
in flenters
skiet.
In die pad op
In die pad op
kap hulle die bome af
Nuwe winkels kom hierbo
ou bome lê hieronder
Hulle werk dwarsdeur die dag
die bome spook al om die nag
Vir die mens ‘n hemelse wins
vir God ‘n helse verlies
Ek is gek oor katte
Nie omrede
hul wapperende snorbaarde in die wind
hul wiegende boudjies as hulle ‘n gogga vind
Nie omrede
die fynbesnede patrone op hulle lyf en gesig
die elegansie waarmee hulle aandag op hulle rig
Nie omrede
die antieke misterie in hulle knippende ogies
hul brood knie en krul voor hulle ‘n slaapplek kies
Nie omrede
begeerlike voorwerpe hulle bekkies laat bewe
hul aksievolle sterte wat apart van hulle lewe
Nie omrede
hul soepel lyfies slapper raak van streel
hul ure lank op hul eie met enigiets speel
Dis net ‘n gevoel
van onvoorwaardelik
gek wees
Ek mis jou
Ek mis jou
vanaand
sonder ‘n rede …
Die laataand vuur wil nie brand
want Klaasvakie strooi aanhoudend sand
Die kat krul om my bene, ‘n wolruikertjie
want hy speel wegkruipertjie
Die handdoek is papsopnat
want dit val alewig in die bad
Kerfees Vader se maag is groot en vet
want hy bêre sy kussing daar en nie op die bed
My kop is lig en my mond is soet
want te veel sjokolade gee hoё bloed
Vlerklose engeltjies kan ook vlieg
want onsigbare draadjies maak hulle wieg
Hoekom
verlang ek vanaand
na jou?
Want ‘n kom het mos nie ‘n hoek nie
Oor slegte vroue
Oor slegte vroue, straatvrouens, die slette
die “Ladies of the Night”
word daar baie
gesê …
geskryf … en die sigarette
Van hulle manlike eweknie
die “Fly by Nights”
word daar minder
gefluister …
gefilosofeer … dis tyd dat hulle bie
Die spesie kan kos en water
oor myle ruik
pyn in die buik
braak op die volgende vangs, eet weer
om op jou te teer
Hulle kan vining vlieg
soos ‘n psigopaat onskuldig lieg
hulle is besonder rats
maak jou kop heeltemal “nuts”
Moenie sê
ek het jou nie gewaarsku nie:
anders as die gewone huisvlieg
kan hulle steek
en die merk is
permanent
Selfs tussen die rumoer
Selfs tussen die rumoer
geskarrel en noodsaaklike gevoer
bly die hospitaal se rustige vlerke
stil en statig soos ou kerke
Siek mense wat veg, bid en vertrou
‘n mengsel van bloed en trane wat jou omvou
die reuk van medisyne en kieme wat swaar hang
die smaak van opgekookte pampoen wat huis toe verlang
Masjiene en harte wat ritmies klop en verstik
die dans van naalde wat aartjies prik
sakkies op pype wat drup en borrel
menslike organe wat angstig gorrel
Bly die hospitaal deel van die lewe
maar
die leё bed in die hoek
gordyne halfmas
is deel van die dood
Ek sien
Ek sien
‘n straathond in ‘n besige pad
stert tussen die bene, oё sat
karremme druk haar ore plat
Ek sien
‘n donkie ‘n swaar vrag trek
‘n dik gerafelde tou om sy nek
teuels skeur sy stukkende bek
Ek sien
‘n gemmerkat in die stormpyp klim
sy verskrikte oё wat in die maanlig glim
in die vullis moet hy rotte ontgin
Ek sien
‘n mier al soekend vir kos
jy’t vergeet om ‘n krummeltjie te los
spuit gif om hom te verlos
Ek sien
‘n koei se ribbes op vier bene staan
honger en dors, heeltemal gedaan
menslike beginsels wat vergaan
Jy kyk ook
maar jy sien nie
Die wiel spin om en om
Die wiel spin om en om
draai jou toe
soos ‘n wurm in ‘n kokon
Jy leef jou ‘n papie
‘n beweginglose toestand
dood is die eufemistiese naampie
Die sirkel van aardse gebeure
‘n siklus van geboorte, dood en lewe
‘n metamorfose tot ‘n gevleuelde
Wanneer ek aan jou dink
Wanneer ek aan jou dink, raak alles vaag
kry ek so ‘n honger kol op my maag
Soos met warm plaasbrood, botter en korrelkonfyt
mossels in witwynsous met ‘n ligte byt
soos met potjiekos vol groente op rys
aartappelskyfies en ‘n stuk geurige beesvleis
Wanneer ek jou sien, raak alles vaag
al wat ek voel is die kol op my maag
Asseblief,
mag ek jou opeet?
Die begraafplaas is toe onder gras
Die begraafplaas is toe onder gras
swart en grys soos dooie as
snak kruise en engeltjies opwaarts na lug
in die wind hoor jy hulle krake sug
Sipresbome se reuk hang sterk
‘n aasvoël land en strek sy vlerk
plastiek blomme lewe in ‘n gebreekte pot
maar die skrif op die stene is spraaksaam bot
Rookwolke van mis vee
Rookwolke van mis vee
borrelend in vanuit die see
die wit duisternis gee liggies mee
Die wet van spasie word oortree
natuurlike auras word betree
omvou saggies om alles te gee
Wasige omhullings skuil
die ronde son en volmaan ruil
‘n ligkrans op die lamppaal word ‘n suil
Onder die sluier vorm ‘n neerslag
tranende druppels in die koue nag
vlae van mis wat wag vir die dag
Word jou woorde en my gedagtes omvou
vorm branders van verseёlde onthou
hou rekord van al die berou
Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

fantasties!
Die gedig ,so vol heimwee ,word bondig maar met diepe gevoel beskryf met behulp van die uitbeelding van die mis,die see en ou versteurde herinneringe wat seer maak.
Vol angs en verwagtig
Like!
Elke gedig vertel sy eie storie en laat mens se verbeelding in elkeen sy eie storie oproep, baie goed!