Die bekende skrywer Riana Scheepers keer terug met ’n verrassing: haar debuut-digbundel. Hierdie versameling passievolle, dramatiese verse belig ’n verskeidenheid temas: reise (plaaslik, na die buiteland en ook na die die ‘binneland’), die verhouding met die ouers, die verhouding met die aarde, die verhouding met Afrika, die verhouding met die geliefde …
En dan staan die erotiese en sensuele dikwels sterk voorop, met die spreker wat in een gedig verklaar:
“met die taal van skarlaken
brand my mond
ek maak weer liefde
ek en my taal.”
’n Bundel wat geen leser onaangeraak sal laat nie, sê die uitgewer Human & Rousseau.
Riana Scheepers het bekendheid verwerf as kortverhaalskrywer (<em>Die ding in die vuur</em>, <em>Dulle Griet</em>, <em>Feeks</em>, <em>Die huis met twee en ‘n halwe stories</em>), romanskrywer (<em>Die heidendogters jubel</em>) en jeugverhaalskrywer (<em>Blinde sambok</em>).
Met die taal van karmosyn word uitgegee deur Human & Rousseau.