Meer as vyf duisend jaar gelede het die moderne huiskat se voorouers saam met boere in China gewoon. Dit is onlangs bevestig deur ‘n studie wat in die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is.
Die data dui daarop dat die katte in China na die plaasdorpies gelok is deur klein knaagdiere, wat van die boere se graan geleef het. Die boere het in vrede saam met die wildekatte geleef, omdat hulle die knaagdiere intoom gehou het. Sommige katte is later deur die boere gevoer, wat veroorsaak het dat hulle in die dorpies aanbly.
Vroeër was dit algemeen aanvaar dat die Egiptenare sowat 4 000 jaar gelede die kat mak gemaak het, maar die nuwe studie bewys dat dit lank voor daardie tyd reeds gebeur het.