Jackson Pollock, kunstenaar en fisikus

Die Harvard wiskundige L. Mahadevan en medewerkers by die Boston College het ’n kwantitatiewe ontleding gedoen van die vloei, druppels en spirale van die verf gebruik deur Jackson Pollock in sy skilderye. Dit toon dat die kunstenaar doelbewus gebruik gemaak het van vloeidinamika.

Die bevinding verteenwoordig ‘n rare inmekaarvloei van wiskunde, fisika, kuns en geskiedenis. Dit bied ook nuwe insig in Pollock se tegniek, sowel as die unieke manier waarop hy natuurlike verskynsels waargeneem het.

Die vermenging van wetenskap en kuns is niks nuuts nie. Dink maar net aan Leonardo da Vinci se botaniese sketse, sy proporsionele studies en sy vliegmasjien. ’n Meer eietydse voorbeeld is die kulinêre kuns van molekulêre gastronome.

Pollock se metode het behels dat hy ’n doek op die grond gooi en verf met kronkelende strome daarop laat vloei. In plaas daarvan om die verf direk uit die blik te laat loop het hy dit met ’n stok of ’n troffel aangewend. Hy het sy hand heen en weer bo die doek beweeg en die stroom verf wyer of dunner gemaak deur die stok se hoogte bo die doek of die hoek waarteen hy dit vashou te verander.

Onstabiliteit in ’n vry vloeiende stroom kan op verskillende maniere ontstaan: dit kan opbreek in druppels, dit kan spat op impak met ’n oppervlak, of dit kan vou en spirale vorm; dink hier as voorbeeld aan ’n stroom heuning wat op ’n sny roosterbrood loop. Die kunstenaar Robert Motherwell produseer druppels en spatsels deur sy kwas te klap in die rigting van die doek; hierteenoor is Pollock se tegniek een wat bepaal word deur die manier waarop ’n relatief stadige stroom verf op die doek val.

Volgens Mahadevan en sy medewerkers was Pollock besig om meer van fisika te leer, terwyl hy dit gebruik het, is sy eksperimente met vloeiende spirale, nog voor die eerste wetenskaplike artikels oor die onderwerp verskyn het in die laat 1950’s en ’60’s.

Kwantitatiewe verduidelikings vir wat nou bekend staan as traagheid, swaartekrag en vloeitrae spiraalvormige regimes is relatief onlangse verskynsels. Mahadevan self bestudeer die vou van heuning, nanovesels en tou, die druppende kraan en vele ander aspekte van die sagte materie fisika.

Mahadevan, die kunshistorikus Claude Cernuschi en fisikus Andrzej Herczyński het aan die projek gewerk op voorstel van sy kollegas dat Pollock vloeidinamika op soortgelyke wyse gebruik het as wat Mahadevan bestudeer.

Mahadevan en kie het Pollock se swart en rooi skildery Untitled 1948 ondersoek en wiskundig bewys dat die enigste manier waarop Pollock sulke klein, draaiende en kronkelende lyne kon skep was deur sy borsel of troffel hoog bo die doek te hou en die verf so te laat vloei dat dit vernou en versnel terwyl dit geval het. Om klein draaie eerder eerder as golwe te maak het hy waarskynlik sy hand stadig beweeg en fisika toegelaat om die res te doen.

Jackson Pollock
Jackson Pollock

(foto Hans Namuth, 1951)

Jackson Pollock is beide geïnspireer en beperk deur die wette van die natuur. Hy het die rol van proefnemer aangeneem wat beheer afgestaan het aan die fisika om sodoende nuwe estetiese effekte te skep.

Die navorsers stel die moontlikheid dat ’n kwantitatiewe begrip van vloeidinamika die inspirasie kan wees vir ’n nuwe styl van kuns, een wat Pollock se medium ’n stap verder kan neem. Deur ’n dun sny te maak in ’n verfblik kan ’n kunstenaar verf met ’n vliesie verf in plaas van ’n stroom en sodoende ’n nuwe estetiese effek skep.

Mahadevan en andere se bevindinge is in Physics Today gepubliseer.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar