Mense dink dat klippe dood is, maar die filosoof Marthinus Versfeld het gesê: “dat klippers ook ‘n soort eie lewe het. Hulle spreek met ’n mens. Derhalwe is daar toorklippe, en gewyde stene, en ’n Kaäba, en ’n Stonehenge. Moenie dink dat die ou volk wat vuurklip gevorm het om die beginsels van ons beskawing vas te lê dit net as ’n dooie ding beskou het nie. Daar lê vuur in opgesluit, die vuur wat in die mens brand, en wat van die gode kom. Ons praat nog van die Rots der eeue, die Rots wat leef.”
Van die land se voorste kunstenaars – beeldhouers, skilders en keramiektowenaars – neem deel aan die groepuitstalling, Klip en Klei, by die Breytenbach Galery in Wellington. Geïnspireer deur Martin se filosofie, is die werk sterk, opreg, onpretensieus.
Die deelnemers is Paul Stopforth (al die pad van Boston), Cloete Breytenbach (wat ‘n foto van Martin geneem het), Joshua Miles (reduksie houtblok werk), Adriaan Oosthuizen (fotograaf), Gregory Kerr (skilder), Evette Weyers en Nicolene Swanepoel (albei keramiekkunstenaars), Willem Boshoff (Children of the Stars), Strijdom van der Merwe (landskapkunstenaar) en Angus Taylor (beeldhouer). Breyten Breytenbach se t-hemde met klipgedigte daarop gedruk, is ook deel van die uitstalling.
Ure: Maandae tot Vrydae 9:00 – 17:00 en Saterdae 10:00 – 13:00. Na ure op afspraak by 021 8642988 of 083 4150002 of galery@breytenbachsentrum.co.za.
Die uitstalling duur tot 27 Junie.