Kuns by Welgemeend

Lovers - Irma Stern
Lovers – Irma Stern
Die roemryke Welgemeend huis teen die hang van Tafelberg het sy deure in 1693 oopgemaak. Vir ’n maand lank is dié deure nou oop vir kunsliefhebbers om ’n paar werke uit twee privaat versamelings te besigtig.

Die een is Welgemeend se versameling van 20ste-eeuse meesterstukke wat versamel is deur die Afrikaanse digter en akademikus Izak Wilhelmus “Boerneef” van der Merwe. Boerneef was ’n man van beperkte middele wat nie ’n motor gehad het nie en nooit oorsee gereis het nie. Hy het sy lewe gewy aan boeke en kuns. In die proses het hy ’n besondere versameling kuns opgebou waarin jy werke sal vind van Irma Stern, Maggie Laubser, Cecil Higgs, Jean Welz, JH Pierneef, Alexis Preller en talle ander.

Die ander versameling is die van die sakeman Frank Kilbourn en sy vrou Lizelle. Die Kilbourns se versameling bestaan al uit meer as 1 000 werke. Hulle versameling sluit werke in van Irma Stern, JH Pierneef, Walter Battiss en Roberts Hodgins. Daar is ook meer kontemporêre werke soos die van Georgina Gratix, Zander Blom, Khaya Witbooi en Robin Rhode.

Vandag en môre kan jy enige kuns laat waardeer by Welgemeend deur Strauss & Co vir R20 per item – ’n maksimum van vyf items. Die opbrengs word gebruik vir die onderhoud van Boerneef se versameling.

Op 10 Oktober 2016 hou Strauss & Co ’n veiling van belangrike Suid-Afrikaanse en internasionale kuns in Kaapstad. Irma Stern se Lovers sal op hierdie veiling wees. Die beraamde waarde vir die skildery is tussen R1 miljoen en R2 miljoen.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar