Ayanda Mabulu se uitbeeldings van president Jacob Zuma het Suid-Afrikaners al telkemale ontstel. Dié keer laat sy uitbeelding van Zuma wat ‘n eksplisiete seksdaad met Atul Gupta in ‘n vliegtuig pleeg, die oë rek. Mabulu het die simboliek rondom die kunswerk by Konstitusieheuwel in Johannesburg, waar die kunswerk uitgestal word, verduidelik.
Die vliegtuig versinnebeeld glo Suid-Afrika. Hy het ook die gebruik van naaktheid in sy kuns verdedig en teen die ANC uitgevaar. Die kunswerk is afgebaken om te keer dat iemand dit beskadig. Die ANC het die skildery ten sterkste gekritiseer en dit as kru vulgariteit en politieke opportunisme bestempel.
Die kunswerk vorm deel van ‘n uitstalling wat veral jong swart plaaslike kunstenaars in die post-apartheid-milieu ‘n stem gee. Die ganse uitstalling is deur die Universiteit van Kalifornië gefinansier. Dit is tot 24 Julie by die ou fort by Konstitusieheuwel te sien en sal daarna na Duitsland en na die VSA reis as deel van die besprekings oor die #BlackLivesMatter-veldtog.