Andries en my houtvrou

deur chrisman baard

“Agter elke man…” So gaan die ou sê-ding mos – heeltemal te seksisties vir ons tye, skat ek. Behalwe, dalk, as jy gay is, maar dan kry dit anner konnotasies. (Of sou ‘n mens dít weer sekssissies kon noem?) Nietemin, agter elke sanger – sy dit manlik, vroulik, onseker, beide, of geen – is daar ‘n reeks helpertjies wat die hele musiekkaboedel moontlik maak. Hierdie helpers is, nou, van die klavierles-girltjie wat jou vingers kleintyd eina!-geraps het, tot die laterjare se girlfriend wat jou nie meer wou raps nie en jou so de depro in gedryf het dat jou eerste song daaruit gebore is.

Agter elke sanger bly daar egter altyd een persoon waarsonder jy net nie kan nie. Dis die een wat jou instrument versorg. Dié word nou nie bedoel as ‘n ginekologiese statement nie. Ek praat musikaal, nie pleinweg kaal nie, van die mens wat jou klavier stem (“stem reg, en stem gereeld”, om die regses van ouds se woorde te drrraai), of as jy ‘n folk sanger is (met die klem op die l), die een wat jou kitaar diens. In my geval, Andries.

Agter elke show is daar die 5 km-trippie na Andries toe. Dit móét Andries wees. Soos met ‘n regte vrou, laat jy ook nie enige man toe om aan jou “houtvrou” te vat nie. Jy keur dié dokter streng; hierdie slag skimp dié statement wel ginekologies. Jy laat nie sommer enige kwak aan jou geliefde meeloper vat nie. Hy gaan mos haar kurwes en dieptes intiem bevoel. Hy gaan haar snare streel, haar met olie bestryk, haar val alkante bekyk, en dan ‘n uitspraak maak wat haar toekoms, en myne, direk raak.

Soos enige goeie arts van watter aard ookal, kén Andries my én ons. Hy weet van ons ins en outs; van ons intieme saamwees ure der ure lank in die oefenkamer, waar ons saam memories maak. Hy weet hoe hy haar moet stem, en hoe hy my kan coach, dat ons die beste in mekaar na vore haal. Andries is ervare. Teen sy studio-muur in Pretoria hang posters van ‘n klomp van sy trotse regulars: van Juanita Ska-rumba du Plessis tot Jan Rooiwyn-en-Mary-Jane Blohm tot Louis Kook-vir-die-Koning Brittz. Op elke poster is ‘n mooi dankiesê-briefie geskribbel. Getuigskrifte, dat hy ander verhoudings ook reg skaaf, skuur, en stuur. Sertifikate, van die kitaarbouskool in Atlanta waar hy twee jaar lank studeer het. Dit help, want elke kunstenaar voel vreemd-onseker as jy jou musikale heil in nuwe hande plaas. Dis nie sommer net vir vat nie! Tóg, tussen al die ander gesigte, ken Andries mý, weet hy Freuderig wat ek wíl, wat ek kán, en wat die verskil tussen dié twee is.

Andries moes my al counsel ook, toe die oue se tyd verbygegaan is, en dit tyd geword het vir ‘n nuwe houtvrou. Vind jy haar nie teen die winkelmure of, soos ‘n Russiese bruid, in die glinster-katalogusse nie, neem Andries se rol paradysmatige afmetings aan. Hy kan vir jou ‘n houtvrou máák – een om by jou te pas. Jy spreek ‘n woord. Hy vat ‘n stuk boom, bou haar om tot ‘n houtvrou, en neem haar na die sanger toe. Een om by jou te pas. En jy sal jou houtvrou aankleef…

Agter elke optrede staan iewers ‘n Andries. Myne gaan tuis in die Ooste van Pretoria; eintlik maar net drie drukkies op my sel-pad ver. Totdat hy eendag Nashville toe versit om daar tussen die wêreld se bestes te gaan sit en snaarinstrumente bou, while my guitar gently weeps …

***

Andries Vorster, kitaarbouer, werk by The Fret Shop. Fret not, jy kan hom hier bel: 012 991 4930.

Lewer kommentaar

Leave a Reply