Suid-Afrika se eerste Afrikaanse woordkuns DVD met geestelike poësie, kunsfoto’s en musiek, God die digter, is pas in Kaapstad bekend gestel.

Onder leiding van bekroonde televisie-vervaardiger en regisseur, Anne Myers, praat en lees Helena Conradie, Christa Thom en Andries Cilliers altesaam 23 gedigte van 18 Afrikaanse digters.

Dit neem die kyker op ‘n ontdekkingstog. Ontdekking van die self, die lewe, die natuur, van dankbaarheid en hoop. Die DVD is ‘n huldeblyk aan Anne, wie op 8 Februarie 2021, weens Covid-19 beswyk het. “Sy was besonder trots op die eindproduk,” sê Helena.

Die program is deur Helena saamgestel. Sy het haar honneursgraad in drama cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Haar loopbaan sluit in die bedryf van ‘n dramaskool, dosent by ‘n technikon, woordkuns-optredes en -CDs.

Haar eerste CD, Boerneef:  Makie Mooigoed Staan, saam met Annalise Wiid, sien in 2000 die lig. Die sukses lei tot nege Afrikaanse woordkuns CDs. Haar groot liefde is die Afrikaanse woord en die taal se vermoë om ’n boodskap oor te dra en om emosie te verwek.

 ʼn Verskeidenheid van ouer en nuwer digters se werke is gebruik. Afrikaanse letterkundige reuse soos NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Sheila Cussons, Olga Kirsch, Joan Hambidge, Wilna Stockenström, C Louis Leipoldt en TT Cloete se werke is deel van die DVD.

“Deur klank, woord, lig en beelde vier ons die lewe. Dit is vir my belangrik om die mooi dinge, veral in die duister tye met Covid-19, te beklemtoon,” sê Helena.

Die sowat 30-minute-lange DVD is deurspek met keurige kunsfoto’s deur Christa Thom en word afgewissel met videogrepe. Christa is ’n mediese dokter maar het as jongmeisie bewus geword van ‘n geestelikheid buite haarself. Deur fotografie verbeeld sy die wonder van dié geestelikheid.

Die beelde dien as metafore van die gesproke woord. Dit beklemtoon dat daar nie net ‘n letterlike dimensie is nie en dat die misterie deel is van ons menslike bestaan.

Die DVD-titel, God die digter, kom van die gelyknamige gedig deur TT Cloete, wat ook deel van die program is.

Helena en Christa het by die Durbanville Poësie-klub ontmoet, waar Helena die voorsitter is. Die derde stem kom van Andries Cilliers, predikant by Drieankerbaai. Hy lees graag, skryf boeke oor geloof, geniet dit om by leeskringe oor boeke en oor die lewe te praat.

“Ons wil met poësie wat leef in teks, beeld en klank mense ontroer en hoop bring,” sê Christa.

Die groep sien die DVD nie as ‘n kommersiële onderneming nie. Die doel is om Afrikaanse gedigte met soveel moontlik ander mense te deel. Die verkope is om die produksiekoste van die DVD te verhaal.

Die God die digter-DVD kos R150 plus versendingskoste. Helena behartig die bestellings. Dit kan gedoen word per e-pos: helena@pieteravzconradie.co.za of selfoon: 082 873 5177. Planne is onderweg om die woordkunsprogram ook as ‘n aanlynkonsert aan te bied.

Andries Cilliers bekragtig ‘n punt aan Christa Thom en Helena Conradie oor een van die 23 gedigte wat by die nuwe baanbreker Afrikaanse DVD ingesluit is.

Lys van gedigte en digters

Glo                                                                      Joan Hambidge (Vuurwiel)

Gebed                                                                Ronald Riekert (Heuning uit die swarthaak)

Negester en stedelig                                       DJ Opperman (Versamelde poësie)

Kersfees                                                              Helena Conradie

Kersgebed                                                         Louis Leipoldt (Versamelde gedigte)

Paddas                                                               DJ Opperman (Versamelde poësie)

Gee my net een dag                                      Annette Snyman (Klein rondreis)

Himne                                                                 SJ Pretorius (Argekrobaat)

Die ganse dag is ene God                             Jan Swanepoel (Wat ver is en naby)

Skepper                                                              Hewitt Visser (Sonvis)

Middernag                                                         Olga Kirsch (Mure van die hart)

Groot Ode                                                         NP van Wyk Louw (Versamelde gedigte)

Christ of the burnt men                                   Sheila Cussons (Versamelde gedigte)

Reën                                                                   Ingrid Jonker (Versamelde werke)

Die sagte sprong                                              Sheila Cussons (Versamelde gedigte)

So ook maar maaksel                                     Wilna Stockenström (Van vergetelheid en glans)

Ballade van die bitterarm dood                    Wilna Stockenström (Vir die bysiende leser)

alle donker en lig: ‘n Sabbatsgedig              Susan Smith (Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte)

Moderne psalm                                                Zandra Bezuidenhout (Aardling)

Hervorming                                                        George Louw (Kraai)

Gebed vir die wêreld                                      Sheila Cussons (Versamelde gedigte)

Ekstase                                                                NP van Wyk Louw (Versamelde gedigte)

God die digter                                                  TT Cloete (Driepas)

Woordkuns CDs deur Helena Conradie

Boerneef:                                         Makie Mooigoed Staan

Sheila Cussons:                                Ek word tintelend wakker

TT Cloete:                                          Die Vensters Gaan Oop

                                                           Kersfees hier by ons

Kinder-CD:                                        Kom Vlieg

Kinder-CD:                                        My ouma het ‘n Skeffie Beffel

Drama:                                              MONAloog

George Weideman:                       Doepa!

Verskeie digters:                             Speelman

Gewyde meditasie:                       Ligvoets…

Lewer kommentaar

Leave a Reply