By die eerste Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek (6 – 11 April) kry 70 topkunstenaars uit ’n verskeidenheid dissiplines die geleentheid om hul vaardighede, idees en konsepte te verfyn onder leiding van agt vooraanstaande fasiliteerders: die teatermakers Andrew Buckland, Gcina Mhlophe, Mmatumisang Motsisi, Sylvaine Strike en Jefferson Tshabalala, die danser-choreograwe Gregory Maqoma en Alfred Hinkel, en die digter en verhoogkunstenaar Jolyn Phillips.
Die gekeurde kunstenaars sal hul nuwe konsepte ontwikkel en aan die einde van die Kunstenaarsweek as kort opwipvertonings in onkonvensionele ruimtes aanbied. Met dié Flikker & Flash-opwipvertonings wil die Woordfees ruimtes wat tans leegstaan, met lig en kuns vul en nuwe lewe blaas in ’n dorp wat swaar deur die pandemie getref is.
Waar: Stellenbosch-middedorp
Wanneer: Vrydag en Saterdag, 9 en 10 April
Aanbiedings:
Vrydag, 9 April, 18:30 – 21:30: ’n poësie- en musiekaand
Saterdag, 10 April, 16:00 – 18:00: Straatsoiree, aangebied deur Stellenbosch Wine Routes
Saterdag, 10 April, 18:00 – 22:30: ’n wye verskeidenheid van kort vertonings (5-15 minute elk) met ’n orreluitvoering in die Moederkerk ter afsluiting van die feestelikhede.
Toegang:
Optredes is gratis, maar toeskouerkapasiteit sal beperk word en alle geldende Covid-protokolle sal streng nagevolg word. Besoekers sal skenkings via SnapScan aan die Tribuo-fonds kan maak. Tribuo bied finansiële ondersteuning aan uitvoerende kunstenaars wat tans geen, of beperkte inkomste, as gevolg van die pandemie het.
Die Toyota US Woordfees Flikker & Flash word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Toyota, die Universiteit Stellenbosch, NATi, kykNET en plaaslike vennote – Stellenbosch Wine Routes en Visit Stellenbosch, wat goedgunstiglik akkommodasie teen afslagpryse aan die besoekende kunstenaars verskaf.