Beautiful in die Paarl

Gert Vlok Nel is ‘n mite, ‘n randfiguur, ‘n legende wat ironies genoeg, waarskynlik baie hoër geag word in Europese literêre en musikale kringe as in sy eie land. Hierdie troebadoer, digter en musikant is gebore in Calvinia en het groot geword in Beaufort-Wes as een van 8 kinders. Hy het die lewe al ervaar in al sy “vlakke” … as student op Stellenbosch, as spoorwegklerk in Bellville, as toergids in die Kasteel, as sekuriteitswag op ‘n kampus, as busker op straathoeke en as ikoon voor uitverkoopte gehore in van Suid Afrika, Nederland en België se voorste teaters.

In 1993 het hy sy debuut digbundel Om te lewe is onnatuurlik gepubliseer, en in 1995 het dit die Ingrid Jonker Prys verower. In 1995 word sy vertoning Om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat beskryf as een van die beste shows ooit op die fees. In 1998 verkyn sy CD met dieselfde naam met liedjies soos “Rivier”, “Beautiful in Beaufort-Wes” en “Waarom ek roep na jou vanaand”. Hierdie laaste liedjie het gehandel oor die dood van Koos du Plessis, ‘n groot invloed in sy lewe. Die liedjie “Beautiful in Beaufort-Wes” is al deur meer as 15 sangers opgeneem.

In 2006 het die Hollandse regisseur Walter Stokmann ’n dokumentêre TV program gemaak Beautiful in Beaufort-Wes met die dorp en Gert Vlok-Nel as die fokus. Binne ‘n week het meer as 4000 van sy albums daar verkoop en sedertdien tree hy gereeld in die lae lande op.

Party mense beskryf Gert as ‘n swerwende troebadoer met ‘n kitaar … Suid-Afrika se antwoord op Bob Dylan en Tom Waits. Sy uitkyk op die alledaagse lewe is soms radikaal anders as gewone mense s’n … en dis juis sy vermoë om “verbloemde waarhede” met eenvoudige, treffende taal oor te dra, wat mense so diep raak.

Vrydag 10 Julie 2015, 20h00, Ou Meulteater, Paarl
Kaartjies: R120
Bespreek by 083 564 00 56 / vicky@oumeulteater.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply