Julanie J se eerste Afrikaanse album Mooi het in 2020 vele aanhangers gewerf vir hierdie jong kunstenaar met die besonderse stem. Haar mees onlangse enkelsnit “Arm” het groot sukses op radio behaal en speel na maande steeds op verskeie prominente stasies landwyd.
Kort op die hakke van “Arm” se sukses volg `n splinternuwe enkelsnit “Bitter.” Julanie vertel: “Ek skryf ook liedjies vir ander kunstenaars en TV Programme en ek het “Bitter” oorspronklik vir `n ander kunstenaar geskryf. Die liedjie het baie “country” elemente gehad, `n genre wat ek nie dink ekself sou wou doen nie. Maar toe die kunstenaar besluit om nie meer `n album te maak en hierdie liedjie uit te reik nie, het ek besluit om dit self op te neem. Om meer by my klank te pas, het ek verskeie POP elemente tydens die opname ingebring.
Die liedjie is geskryf na `n spesifieke ervaring: Toe ek en my vriendinne een aand `n baie duur bottel sjampanje drink, was ons verbaas dat dit glad nie baie lekker was nie. Ons het almal gespot en gesê dat ons eerder die goedkoper opsie moes kies, vandaar die lirieke: “Die duur bottels proe bitter vir my.”
Die liedjie praat natuurlik van die sjampanje maar ook hoe ons as jong vroue nog uitvind wie ons is en wat ons wil hê. Dit kan soms moeilik wees in vandag se tyd met sosiale media en die wanpersepsie van hoe ons moet lyk en onsself gedra. Aan die einde van die dag dink ek ons soek almal meer selfvertroue – en die lewe is beslis te kort vir slegte sjampanje!”
Stroom die liedjie hier: https://WarnerMusicSA.lnk.to/Bitter