CH2

Die jong kitaar duo van Pretoria CH2 stel hulle nuwe CD genaamd Strings Attached vry op die 1ste Maart 2006 in die Centurion Teater. Hulle album bevat beide oorsponklike stukke gekomponeer deur die lede Corneille Hutten-Burger en Christiaan Hattingh, asook verwerkings van welbekende liedjies soos Fragile (Sting) en Suikerbos.

Soos die titel ook skimp, was verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars betrokke tydens die opname van die CD onder meer die Soweto Strykkwartet, Rocco de Villiers, David Klassen en Maria-Lorca Montoya van die José Montoya Spanish Dance Theatre om maar ‘n paar te noem. Dit is die duo se derde album en Die Soweto Strykkwartet gaan saam met hulle optree tydens die geleentheid op 1 Maart.

‘Ons was meer betrokke as ooit tevore!’ was die 27-jarige Corneille se antwoord op die vraag oor die CD se klankversorging: “Ons het die warm Suid-Afrikaanse klanke vervolmaak – iets waaraan ons gewerk het sedert ons tweede CD Gut vrygestel is in 2004.”

Die sleutel tot die sukses van Strings Attached lê in ure se werk in die opname ateljee, harde werk wat bydra tot die finale produk; ‘n mengsel van klassieke musiek, goeie tegniek en energieke Spaanse ritmes wat tot alle musiekliefhebbers sal spreek. Die CD sal tydens die aand te koop wees (R100) en is vanaf Februarie ook beskikbaar by meeste CD handelaars.

Strings Attached, CH2

Lewer kommentaar

Leave a Reply