Middernag, Tafelbaai, 6 Augustus 1863, die derde jaar van die Amerikaanse Burgeroorlog.
Die Alabama van die Suidelike Konfederasie in Amerika vaar Tafelbaai binne uit die noordweste. Hierdie oorlogskip, onder bevel van kaptein Raphael Semmes, het al 55 skepe van die vyand gekelder.
Uit die suidooste kom die Sea Bride onder kaptein C. White Tafelbaai op dieselfde oomblik binne. Beide skepe is nog buite die neutrale Kaapse gebiedswaters wat 1 seemyl die see-in strek.
Die Sea Bride probeer wegkom, maar die seile kom nie die mas op teen die Alabama se addisionele stoomenjin nie. Die Sea Bride word die Alabama se 56ste slagoffer.
’n Groot groep Kapenaars het op land saamgedrom en die Alabama se oorwinning aanskou. Mettertyd is die Amerikaanse oorlogskip se naam verewig in die Afrikaanse volksliedjie “Daar kom die Alabama”.
