Die lang wag was toe die moeite werd! Johannes Kerkorrel het nie sy aanhangers teleurgestel nie – die resultaat is ‘n goed afgeronde vermenging van nuwe en oorspronklike materiaal.
Kerkorrel was vir meeste van die klankvermengings verantwoordelik, met hulp van vervaardiger Neal Snyman, en getrou aan die Kerkorrel-styl bly digital die wagwoord.
Uitstaande snitte sluit in: “Ah mens” en “Slaap klein beminde” – ‘n onvergeetlike samewerking tussen Kerkorrel en Breyten Breytenbach – reeds rede genoeg vir die aanskaf.
Die album maak voorsiening vir die vernuwende, trendy Afrikaner wat ten alle koste in voeling wil bly met internasionale invloede, sonder om in die proses die unieke Afrikaner-kultuur prys te gee. Enige aanhanger van die vorige verwerking van Al lê die berge nog so blou sal dié uitreiking as ‘n aanwins in hul cd-versameling beskou. Daadwerklik ‘n album wat op mens groei!
8/10