Die beste van Mel Botes

Die liedjieskrywer, kitaarvirtuoos en alombekende Mel Botes keer vanjaar terug met sy eerste versamelde werke album, getiteld Die Beste van Mel Botes.

Dit is ‘n dubbelalbum waarvan die een CD sy beste Afrikaanse werke ten toon stel en die ander CD se beste Engelse werke.

Botes is een van daardie rare kunstenaars wat dit reggekry het om gelyktydig ‘n Afrikaanse loopbaan as liedjieskrywer en folk-rock sanger te vestig; asook ‘n Engelse loopbaan as rocksanger en kitaarspeler.

Na bykans 20 jaar in die bedryf, heelwat toekennings en ‘n baie lojale gevolg, is hierdie langverwagte dubbelalbum ‘n groot bonus vir sy volgelinge. Beide fynproewers en nuwelinge wat nog nie voorheen blootgestel was aan sy kenmerkende
styl, sy veelsydigheid en sy volgehoue oorspronklikheid nie behoort groot aanklank by die album te vind.

Mel Botes is ‘n musikant wat groot naam gemaak het vir sy vermoë om aanhoudend musikale grense te skuif en is ‘n veteraan met Afrikaanse albums soos Oomblik van waansin, Ek like jou ma, die Song vir Katryn-klankbane saam met Valiant Swart, en Engelse albums soos David’s Confession – About time Flight of bird, Nice to meet you en Crazy diamond – A tribute to Pink Floyd.

Sy kommersiële Afrikaanse deurbraak het in 2000 plaasgevind toe hy as wenner aangewys is van die Beeld/Geraas/Janus-Vuurdoopliedjiewedstryd. Die wenliedjie, “As”, het hy sowat sewe jaar tevore geskryf, maar hy het dit terstond uit ‘n
laai opgediep vir die wedstryd en toe sommer nóg twee liedjies geskryf. Die resultaat was uiteindelik die album “Oomblik van waansin”, waarmee hy ook in 2001 die Geraas-musiektoekenning gewen het vir liedjieskrywer van die jaar.

Die beste van Mel Botes
Die beste van Mel Botes
Hierna het sy rol in die immergewilde Song vir Katryn hom natuurlik volksbesit gemaak en hy sy werk opgevolg het met die satiriese “Ek like jou ma”; ‘n album wat ‘n tong-in-die-kies ode is aan die verleidingskrag van die populêre kultuur.

Sy Engelse deurbraak het reeds in 1998 gekom toe hy saam met die bekende Botha-broers die verhoogproduksie David’s Confession by Sun City opgevoer het en ‘n gelyknamige album opgeneem het. Die album het vinnig kultus-status bereik en word vandag nog deur fynproewers beskou as een van die grootste deurbrake in Suid-Afrikaanse rock. Hy het homself hiermee gevestig as ‘n kreatiewe meester en storieverteller wat konsepalbums- en vertonings op ‘n groot skaal kan aanbied. Dit het gelei tot ‘n volgende album en verhoogproduksie getiteld Flight of bird wat weereens getoon het hoe hy karakters kan skep en hul sielsreise met musiek en beeld kon vertel.

As gevolg van die vergelykings wat sy volgelinge begin tref het tussen hierdie werke en die werk van Pink Floyd het hy in 2008 ‘n verhoogproduksie aanmekaar gesit getiteld Crazy Diamond – A tribute to Pink Floyd. Hierdie produksie vertoon vandag nog voor vol sale. Hy het dit opgevolg met ‘n soortgelyke verhoogproduksie wat baseer is op die musiek van Dire Straits asook die huidige Riders from the Storm – The South African Electric Guitar Legends, met sy medewerkers Piet Botha, Valiant Swart, Albert Frost, Mauritz Lotz en Nathan Smith.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes [by] roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply