Die Suid-Afrikaanse landskap, twee Harley Davidsons, musiek en mense … en Jack Parow. Dit is wat kykers kan verwag wanneer Dis Hoe Ons Rol op Vrydagaand 1 Julie op kykNET begin.
“Ek wou nog my lewe lank ‘n reisprogram maak,” sê die vervaardiger en mede-aanbieder Hardus van Deventer. “Ek dink dis die rede hoekom ek in televisie begin werk het.”
Die droom het waar geword tydens ‘n kuier saam met sy ou vriend Zander Tyler (Jack Parow se geboortenaam).
“Ek en Hardus het een dag ‘n bier gaan drink in Claremont iewers by een of ander Engelse bar (naby Nuweland, so dis OK) en het toe begin praat oor die idee om dalk ‘n show aanmekaar te sit,” sê Tyler. “Ná ons ‘n paar idees rondgegooi het het en ‘n bier of twee later, het ons besluit om in die middel te ontmoet en al die idees saam te gooi in een show, ‘n reis/realiteisreeks/onderhoude/kos/braai/bars/bikes/alles,” verduidelik Tyler oor hoe die projek begin het.
Hierdie is nie net ‘n reisprogram of vir motorfiets-entoesiaste nie. Deel van die program is ook optredes deur Parow aangesien sy bestuurspan gesê het hy kan die program doen op een voorwaarde: Hy moet ‘n konsert in elkeen van die nege provinsies doen. Dertig dae. Nege provinsies. Nege konserte. Hoekom dan nie?
Daar was ses manne in die span. Parow, Van Deventer, Johan Nel en Nic van der Westhuizen was die kamermanne, Jonathan Paizee het vir die klank gesorg en Jaco S. Venter was die fotograaf en koördineerder.
“Ons het soveel plekke aangedoen,” sê Van Deventer. “Van Paarl tot Koffiebaai, Soweto tot Douglas. Hierdie is ‘n program vir oud en jonk. Ons hoop dat dit vir mense by die huis lus sal maak vir reis deur Suid-Afrika. Dit gaan veral vir motorfietsaanhangers ‘n moet wees om te kyk.”
Volgens Tyler was die lekkerste deel om “rondom Suid-Afrika te mission en om rêrig te sien hoe lyk al hierdie cool plekke en die vibe van die mense van ons land”.
“My gedagtes voor die tyd was regtig dat Suid-Afrika die coolste plek in die wêreld is,” sê hy. “Dit het net weer vir my gewys dat ons mense die coolste is en hoe baie cool stuff daar is om te doen waaraan ek nog nooit eens naastenby aan gedink het nie.”
Jack Parow-aanhangers, maar ook dié wat sy musiek nie goed ken nie, gaan elke oomblik geniet. Van die konserte wat op die program gewys word is groot, ander meer intiem.
“Hulle gaan ook vir Zander Tyler, die man agter Jack Parow, ontmoet. Waarvan hy hou, waarvoor hy bang is, wat hom gelukkig maak …” sê Van Deventer.
Een van die grootste uitdagings wat die span gehad het, was die afstand wat hulle moes ry.
“Ons moes elke dag ongeveer 275 km ry,” sê Van Deventer. “Suid-Afrika is groter as wat mens dink. Ons het 30 dae gehad om die program op te neem wat beteken het ons het drie dae per episode gehad. Die lang ente wat ons moes ry en die baie opnames per dag het later sy tol begin eis, maar ons het deurgedruk.”
Daar was ‘n noue ontkoming of twee.
“Ek het in George amper op ‘n pofadder getrap en Zander het in Clarens aan ‘n stuk biltong verstik. Hy was later blou in sy gesig. Ek moes Heimlich se maneuver op hom uitvoer en gelukkig het dit gewerk,” sê Van Deventer.
“Daar was ook die insident waar ons trailer gebreek het,” onthou Tyler. “In die middel van die nag het ons in Sekunda gehoor van iemand wat ‘n welder is. Ons het middernag by die mense aangekom en hulle het opgestaan en ons trailer vir ons gefix. As jy in ‘n ander land, maak nie saak waar jy gaan nie, in die middel van die nag of selfs tien minute ná vyf in die middag byvoorbeeld in Amerika mense gaan vra om te help, gaan hulle sê nee, sorry, kom môre terug. Dis net ‘n awesome testament van die spirit van Suid-Afrikaners.”
Dis Hoe Ons Rol begin op Vrydag 1 Julie om 21:00.
(foto: Jaco S. Venter)