Bottomless Coffee Band het verlede week hul eerste Afrikaanse lied getiteld “Ek sal wag” uitgereik.

Lourens Rabé noem dat hulle dit geniet het om ook vir die eerste keer in Afrikaans musiek te maak. “Dit is ons moedertaal en was dus `n natuurlike wending vir ons.”

Esté Rabé vertel ’n bietjie meer oor die ontstaan van “Ek sal wag.”: “Op ons eerste internasionale toer in 2016, het ons besoek afgelê aan Denmark Straat in Londen, die immerbekende musiekwinkel straat. Ek en Lourens het verskillende kapasiteite vir inkopies. Nadat ek een keer ’n rondte gedoen het van al die winkels het ek besluit om vir hom in ’n koffiekroegie te gaan wag terwyl hy nog kitare toets en beloer. Soos ek gaan sit het by die venster toonbank, het ek opgemerk dat daar ’n dame by ’n tafeltjie op die sypaadjie sit. As die venster nie tussen ons was nie, sou ons ongemaklik naby aan mekaar gesit het vir 2 vreemdelinge, maar as gevolg van die venster was ons geskei … Dis daar en dan dat ek die inspirasie gekry het vir hierdie liedjie. Vensters groei tussen ons en baie dinge in ons lewens (meestal tussen ons en ons naastes) – wat ons skei van mekaar sonder dat ons dit eers agterkom. Ons is naby aanmekaar, maar ons het ophou kommunikeer. Hierdie liedjie gaan oor die wag vir hierdie vensters om weer te smelt; om te wag vir die persoon se hart om weer na jou terug te keer. Hierdie liedjie was aanvanklik in Engels waarna ek dit vertaal het na my huistaal; Afrikaans. Die Engelse weergawe gaan ook vrygestel word.”

Hulle nuwe album, Anthelia, word volgende week vrygestel.

Luister hier na “Ek sal Wag”: https://soundcloud.com/bottomless-coffee-band/ek-sal-wag

Lewer kommentaar

Leave a Reply