KAAPSTAD – Kaapstad se mees ikoniese klipkatedraal gaan op Vrydag 19 Desember subtiel verander in iets tussen ’n operahuis, ’n tydmasjien en ’n luukse musiek-‘spa’, wanneer Opera UCT die gewilde Enchanted Baroque aanbied—’n uur van goue-era klanke wat jou ore soet sal sus, selfs al ken jy nie jou Bach van jou braaivleis nie.
Onder die wakende blik van Professor en dirigent Jeremy Silver, word St. George’s Cathedral vir een aand opgegradeer na ’n klankpaleis waar jong opera-sterre en Barok-musikante jou gaan oortuig dat die 1600’s dalk nie só ver terug voel as iemand dit ordentlik vertolk nie.
Die aand sien ook die samewerking: tussen die KT Wong Stigting, mode-ikoon Gavin Rajah, en Opera UCT.
Lady Linda Wong Davies—filantroop en bron van elegansie—sê die projek is niks minder nie as ’n belegging in die globale toekoms van Suid-Afrikaanse opera.
Dirigent Jeremy Silver beskryf die katedraal as “perfek vir Barok”—waarskynlik omdat die akoestiek alles laat klink asof dit reeds met ’n goue filter verwerk is. Elke trilling, triller en tierlantyntjie word dramaties versterk.
Gavin Rajah bring natuurlik ’n spatsel modieuse drama: as hy nie klere ontwerp wat op rooi matte drapeer nie, help hy ook om die kunste te laat fonkel.
Ná die konsert kan gaste ’n VIP-ontmoeting by The Labyrinth bywoon.
Jongmense, studente en ouer musiekliefhebbers kry afslag, want Opera UCT glo musiek is vir almal—nie net vir die mense wat weet hoe om “Barok” reg uit te spreek nie.
Enchanted BaroqueDatum: Vrydag 19 Desember 2025
Tyd: 19:00 (duur: ± 1 uur)
Plek: St George’s Cathedral, Kaapstad
Kaartjies: Vanaf R150 op Quicket
Dirigent: Prof Jeremy Silver
Vennootskap: KT Wong Foundation, Gavin Rajah & Opera UCT
Sangers:
Soprane: Frances van Vuuren, Mia-Lana Slier
Mezzos: Lilitha Nkuku, Nica Reinke
Tenore: Iviwe Boms, Simbongile Ntlahla
Baritone: Sandile Zitha, Sisa Mjekula

