Twee uitstaande Suid-Afrikaanse musici sal op Sondag 3 Maart om 16h00 in die Stellenbosch Moederkerk vir die eerste keer hul kragte saamspan.
Die Suid-Afrikaanse blokfluit virtuoos, Stefan Temmingh, en die bekende Stellenbosche orrelis, Zorada Temmingh, bekend vir haar innoverende orrel-improvisasies sal die verhoog deel in ‘n konsert getiteld Fantasia & Echo. Die program is saamgestel binne die tema en variasie raamwerk en sal werke van komponiste uit die 16de tot 20ste eeu insluit.
Hierdie konsert – wat slegs een maal uitgevoer sal word – is deel van Stefan Temmingh se eerste amptelike toer na Suid-Afrika sedert hy sy studies en uitsonderlike loopbaan oorsee voortgesit het. Vandag word hy as een van die vooraanstaande blokfluitspelers in die wêreld beskou en word sy spel geprys as “moeiteloos virtuoos”, “ongehoord liries “, met “groot dinamiese omvang” en “boeiend, hoogs ekspressief”, asook “vol “ryk musikale skakerings en betowering.”
Stefan Temmingh het onder Markus Zahnhausen en prof Michael Schneider studeer. Sy debuut CD Corelli à la mode (2009) is met lof deur internasionale musiekresensente ontvang, terwyl sy tweede CD The Gentleman’s Flute onmiddellik genomineer is vir die International Classical Music Awards 2011. Sedertdien word Stefan gereeld met die legendariese blokfluitmeester Frans Brüggen vergelyk. As ‘n spesialis van vroeë musiek, tree hy gereeld in Europa by bekende feeste en konsertreekse saam met sy barok-ensemble op. Hy is ook ‘n gesogte solis by barok- en kamer orkeste. Hy is die dryfkrag agter, en deelnemer aan talle projekte en premières van kontemporêre musiek. Die gerespekteerde kritikus Enrico Girardi het van hom gesê, “Nog nooit tevore het blokfluitspel so moeiteloos en geartikuleerd in terme van timbre en dinamiek geklink nie.”
Zorada Temmingh word beskou as een van Suid-Afrika se top orreliste en het reeds baie lof ingepalm vir haar hoogs bekwame orrel-improvisasies, veral vir haar unieke klankbaan-improvisasies vir swart-en-wit stomfilms soos The Hunchback of Notre Dame, The Four Horsemen of the Apocalypse en The Phantom of the Opera. In 2006 het sy ‘n toekenning van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees ontvang vir haar grensverskuiwende bydra tot klassieke musiek.
Ongereserveerde kaartjies vir Fantasia & Echo, met Stefan Temmingh (blokfluit) en Zorada Temmingh (orrel) in die Stellenbosch Moederkerk op 3 Maart om 16h00 kan bespreek word by www.webtickets.co.za or of by die deur gekoop word. Vir verdere inligting: tel.+27 (0)21 461 7617
