Wie is fokofpolisiekar?
‘n CD met twee songs het sonder seremonie hier by ons geland. So terloops, ek hou van die ontwerp van die omslag. Afrikaanse kunstenaars gee deesdae te min aandag aan die omslag. Dis gewoonlik ‘n skepping van een van die band se lede se niggie wat kamtig grafiese ontwerp swot, maar duidelik moes gehou het by verpleegkunde. Soms is die omslag bloot ‘n foto wat een of ander blinde groupie geneem het.
Die CD met twee songs is van fokofpolisiekar se EP, as jy met vuur speel sal jy brand, wat op 5 Desember by Mercury Live vrygestel word.
Wie fokofpolisiekar presies is weet ek nie, maar ek hou van die musiek. Die twee songs, “maak of braak” en “fokofpolisiekar”, herinner my so bietjie aan The Clash. Dit is nie die normale afgewaterde twak waarmee ons deesdae gevoer word nie. Die passie teenwoordig in die uitvoering gee mens rede om op en af te spring voor ‘n verhoog. Ek hoop net die res van die CD voldoen ook aan die standaard wat hier gestel word.
Mag die ouens ook soveel vonk op die verhoog hê soos hulle musiek suggereer.
