Alma Swart, feesorganiseerder van die Umuzi Kunstefees, sê dat hulle baie opgewonde is oor die nuwe teater. “Ons het besluit om die ou Basement Teater, wat vir ‘n dekade in sak en as gelê het, in ‘n volwaardige teater te omskep.” Swart sê dat die eerste Umuzi Kunstefees in 2024 georganiseer is en as ‘n proeflopie gebruik is. “Dit was ‘n reuse sukses en die bestuur van Lake Umuzi het toe die besluit geneem om die teater heeltemal oor te doen en die volwaardige Umuzi Teater te skep. Die binnekant van die ou Basement Teater is totaal gestroop. Daar is nuwe teaterstoele in teaterstyl geïnstalleer en die teater spog nou met die nuutste klank- en beligtingstoerusting. Die Umuzi Teater het ‘n kapasiteit van 400.” Sy sê ook dat die teater ‘n baie belangrike rol in die Umuzi Kunstefees gaan speel, maar dat dit ook die uitvoerende kunste vir Secunda weer lewendig gaan maak. “Ons voorsien ook dat mense van die Oos-Rand, Johannesburg en Pretoria die teater sal ondersteun. By Lake Umuzi is daar genoeg verblyf in hotelle of chalets beskikbaar, asook ‘n kampterrein, en juis daarom nooi ons almal om hier by ons teater wonderlike produksies te kom geniet. Die teater kan ook aangewend word vir konferensies, loodsing van produkte, skole se prysuitdelings, revues en meer.” sê Swart.
Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies sê dis wonderlik om deel te kan wees van die eerste produksie in die nuwe Umuzi Teater. “Dis bemoedigend dat die sakewêreld steeds die waarde van teater en die uitvoerende kunste raaksien, en bereid is om ruim te belê in die skepping van die nuwe Umuzi Teater. Lefra Produksies salueer die bestuur van Lake Umuzi en sê baie dankie dat julle nog ‘n teater gebou het wat werk vir al ons uitvoerende kunstenaars sal gee.” Hy sê ook dat Secunda altyd ‘n baie aktiewe teatergemeenskap gehad het. “Ons het vir baie jare met uitverkoopte vertonings by die destydse Johannes Stegman Teater gespeel. Juis daarom beteken hierdie teater vir ons so baie.” Swart, ook regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied! sê dat hy en sy span baie geëerd is om die Umuzi Teater met hierdie besondere produksie te open. “Gé Korsten het sekerlik in elke liewe teater en saal in ons mooi land gespeel. Hy sou baie trots gewees het om in die Umuzi Teater te kon sing.” Hy wens die Umuzi Teater alles van die mooiste toe met die volgende woorde: “Mag die Umuzi Teater nooit donker wees nie!”
Gé Korsten se legendariese stem het op 29 September 1999 vir altyd stil geword. Frans sê dat dit vir hom ‘n besondere groot voorreg is om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!”
In die produksie word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n reuse skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur vier van die land se voorste kunstenaars: Andrè Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt en Stephanie Baartman. ‘n Volle orkes, onder leiding van musiekregisseur Chanie Jonker begelei die viermanskap. Die produksie was vroeër vanjaar vir vier Naledi-teatertoekennings benoem. Jonker is benoem in die kategorie beste oorspronklike klankbaan, verwerking of klankskap, Swart as beste regisseur van ’n musiekteaterproduksie en sangeres Stephanie Baartman as b este aktrise in ’n musiekteaterproduksie. Die produksie self is benoem vir beste kabaret, revue kleinskaalse musiekteaterproduksie.
- Die Umuzi Kunstefees vind van 19 tot 27 September 2025 by Lake Umuzi in Secunda plaas met verskeie top teaterproduksies wat aangebied gaan word.
- Besprekings: https://ltickets.co.za/umuzi-kunstefees-2025/
