Die kern van die klassieke program by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees is gebou rondom ‘n uitgebreide Barok-program wat deur die Puk-kampus van die NWU aangebied word.
Ander konserte wat deel uitmaak van die Barok-program is Discorsi in musica met ‘n internasionale ensemble van Barok-spesialiste – Antoinette Lohmann (viool), Annette Wehnert (viool en altviool), Carin van Heerden (hobo), Hans Huyssen (tjello), Gerhard Benade (fagot) en John Reid Coulter (klavesimbel); Lasciatemi morire met sangers van die Internasionale Sangsimposium onder leiding van dirigente Wolfgang Katschner en Hans Huyssen wat fokus op Monteverdi se madrigale; en Madrigale guerrieri et amorosi, saamgestel en onder leiding van Van Rensburg, wat ook fokus op werke van Monteverdi.
Die Musaion-trio – Malcolm Nay (klavier), Zanta Hofmeyr (viool) en Heleen du Plessis (tjello) ¬– en gaskunstenaars Jacques Fourie (viool) en Elmarie van der Vyver (altviool) lewer ‘n program met werke van die kamermusiek van Sjostakowitsj onder die titel Lag met ‘n traan, terwyl Zanne Stapelberg (sopraan) en James Grace (kitaar) vurig raak met ‘n program van Spaanse musiek en ‘n paar verwerkings van eietydse musiek in Canciones en Españolas. Die blondines – Elna van der Merwe en Zorada Temmingh (twee klaviere), ondersteun deur Hugo Radyn (tromme) – is terug met hul oorspronklike verwerking van klassieke en kontemporêre musiek met Blondes, Tchaikovsky & Queen. Kinders (en volwassenes) kan uitsien na Camille Saint-Saëns se vrolike Karnaval van die diere.
Twee kore maak vanjaar hul stemme dik: die UJ-koor met ‘n nuwe komposisie van Jeanne Zaidel-Rudolph genaamd Youth Oratorio for Choir and Ensemble en die Puk-koor, onder leiding van Awie van Wyk, met Musica! waarin die fokus sal val op die verjaarsdagmanne – Haydn, Mendelssohn en Handel.
Op die visuele kunsfront is Conrad Botes vanjaar die amptelike feeskunstenaar en bring hy nuwe werke byeen in ‘n uitstalling getiteld Hostile Territory, waarin hy werk met temas rondom grense en oorskryding, veral met betrekking tot die verhouding tussen mense en die metaforiese landskap. Nthabiseng Rachel Montshiwa is genooi om as jong kurator ‘n uitstalling saam te stel. In BestBeforeThreeTen speel sy met die gedagte dat kuns ook ‘n verbruikersartikel geword het – die gedagte dat mense by uitstallings en kunstefeeste vervaard op soek is na die “beste” kuns (i.e. beste waarde vir geld) vóór die tyd jou inhaal.
Ander kunstenaars van wie uitstallings te sien sal wees, is Strijdom van der Merwe, Peter Eastman, Christo Coetzee, Adèle Oldfield en Nathani Lüneburg. Onder die groepuitstallings is daar Ardmore Ceramics met kunstenaars van die Ardmore-keramiekkunsstudio; Avant Car Guard – ‘n groep van drie kunstenaars wat as een uitstal; CQ-Fest wat op werk binne die advertensie- en ontwerpmilieu fokus; die Plat Awards; Streek wat die diversiteit van huidige en voormalige kunstenaars uit die Potchefstroom-omgewing belig; en Skilder met woorde waarin werke uit die ATKV-versameling deur ‘n kort gedig gekompleteer word. Die Kunssafari word oudergewoonte die aand vóór die aanvang van die fees aangebied, terwyl daaglikse kunstoere ook weer eens meegemaak kan word.
Aardklop word van 29 September tot 3 Oktober in Potchefstroom aangebied. Besprekings open landwyd op 23 Julie by Computicket. Vir inligting oor verblyf, kontak 018 294 7508 of besoek die webwerf by www.aardklop.co.za vir algemene inligting en meer besonderhede oor die program.