Karen Zoid se nuwe liedjie, “Waar Was Jy?”, is spesiaal vir Huisgenoot se 100ste verjaardag geskryf en opgeneem.
Op 20 Mei 2016 stap Huisgenoot al ’n eeu lank ’n pad met Afrikaanse mense. Zoid was dadelik geïnspireer nadat sy deur die Huisgenoot 100-gedenkboek geblaai het. “Ek het die boek toegemaak en met my kitaar op my skoot die koor begin sing en skryf,” sê sy. “’n Wêreld groot of klein, vol geluk en ook pyn. Kan jy onthou waar was jy?”
Volgens Zoid is die lewe nie ’n skoon spieël nie. “Ons almal beleef goeie en slegte tye. Dit is wat Huisgenoot amper volksbesit maak: Die stories laat ons onthou ons is nie alleen in hierdie wêreld nie.”
Toe Minette Ferreira, algemene bestuurder: weeklikse tydskrifte, die idee kry om ’n spesiale lied vir Huisgenoot se 100ste verjaardag te laat skryf, het sy geweet niemand gaan dit beter doen as Zoid nie. Volgens Ferreira het dit aanvanklik soos ’n onmoontlike taak gevoel; ’n idee is een ding, maar hoe vang jy 100 jaar van ’n eg Suid-Afrikaanse handelsmerk in ’n enkele liedjie vas? “Tog het ek geweet Karen sou met haar skryf- en sangtalent kon vasvang wat ons wou oordra. Wat sy reggekry het, is merkwaardig, en dis ’n absolute voorreg om dit met ons lesers te kan deel,” sê Ferreira.
Huisgenoot se redakteur, Henriëtte Loubser, sê: “Met die woorde en melodie het Karen die emosie rondom ons mylpaal vasgevang, asook die plek wat Huisgenoot al ’n eeu lank in ons lesers se lewe en hart beklee. Huisgenoot skryf onopgesmuk oor gewone mense en bekendes se glorie en teleurstellings, en dit is wat die lied probeer oordra: dat die lewe vol oppe en awwe is, maar dat ons mensheid ons saambind. As jy die liedjie eers een keer gehoor het, bly dit in jou kop draai. Ons dink dit gaan ’n groot treffer wees!”
“Waar Was Jy?” is by Bellville Studios opgeneem. Theo Crous was die musiekregisseur. Die video van “Waar Was Jy?” is ook pas uitgereik en neem ’n mens terug na ’n paar heerlike mylpaal-onthou-oomblikke. (sien onder)
“Waar Was Jy?” is vanaf gister op iTunes en Apple Music beskikbaar.
Lirieke:
Hulle’t my vertel van ’n rebel,
verwilderd, sonder woning.
Hei, rebel in ’n sel,
môre is jy koning.
Flenterkinders, somers, winters
in die wind en weer.
Party mense het niks gedoen nie.
Party het te hard probeer.
’n Wêreld groot, ’n wêreld klein
vol geluk, en ook pyn
bloos of blik,
ons verdwyn.
Kan jy onthou – waar was jy?
Twee vroue in die koue
wat aan ruikers klou.
Die een staan langs ’n kind se graf;
die ander ene trou.
Daar was blomme,
daar was bomme,
en keer op keer
het die magiese
en die verdomde
ons altyd iets geleer.
’n Wêreld groot, ’n wêreld klein
vol geluk, en ook pyn
bloos of blik,
ons verdwyn.
Kan jy onthou – waar was jy?
Torings tuimel,
hand op die Bybel.
Jy skud jou kop, want jy wil verstaan.
Liefde betower,
vrede verower
om die stormwaters stil te maak.
Ons is groot, ons bly klein
in geluk en in pyn.
Bloos of blik, ons verdwyn.
Kan jy onthou – waar was jy?
’n Wêreld groot, ’n wêreld klein
vol geluk, en ook pyn
bloos of blik,
ons verdwyn.
Kan jy onthou – waar was jy?

