Watershed, een van Suid-Afrika se mees suksesvolle groepe, plaaslik en internasionaal, vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf.  Dié KKNK Mothership-sessie bied unplugged weergawes van hul ouer, bekende treffers, asook ’n paar nuwe liedjies van hul mees onlangse album, Harbour.

Watershed se paadjie tot by die KKNK Mothership-sessies loop met indrukwekkende draaie. Bo en behalwe talle optredes by feeste en op verhoë landwyd, het hulle tydens oorsese toere die verhoog gedeel met onder andere U2, Peter Gabriel, Bob Geldof, The Corrs en The Cranberries. Die groep se gewilde voorsanger Craig Hinds vertel dat dit ’n aanpassing is om nie tans vir lewendige gehore te kan speel nie. Hinds sê: “Ons aanhangers het onlangs begin vra vir ’n aanlyn konsert. Ons kan nie aan ’n meer perfekte geleentheid dink om dit saam met KKNK en Mothership Studios te kon realiseer nie.”

“Ons was ’n bietjie senuweeagtig op die verhoog omdat ons in Februarie laas opgetree het,” erken Hinds. “Maar die produksiespan het ons tuis laat voel en hul indrukwekkende professionele aanslag het die opname ’n baie spesiale ervaring gemaak. Vandat ons by die studio aangekom het tot die einde van die dag het alles baie vlot verloop. Baie dankie aan KKNK en Mothership Studios vir die uitnodiging om deel te wees van hierdie projek. Ons kan nie wag om die konsert met die kykers te deel nie.”

Hinds noem dat kunstenaars nie in hierdie moeilike tyd hoop moet verloor nie: “Die grendeltyd-maatreëls het die hele industrie nadelig beïnvloed, maar ons moet hierdie tyd konstruktief gebruik om te werk aan kreatiewe oplossings om ons musiek met die publiek te deel.  Ek is van mening dat ons as musikante nie te precious moet wees nie. Deel idees met ander, skryf saam nuwe liedjies, gesels oor idees.”

Watershed werk tans aan hul 7de studio album. Die groep is met twee SAMA-toekennings vir die beste pop-album bekroon en was ook in 2019 genomineer vir ’n SAMA vir beste kontemporêre album. Hulle het ook verskeie kere weggeloop met People-tydskrif se Beste groep in Suid-Afrika-titel.

Moenie Watershed se heerlike konsert misloop nie. Kry jou kaartjies by WEBTICKETS. Die musieksessie sal vanaf Donderdag 20 Augustus om 20:00 vir 72 uur beskikbaar wees.

Spesiale aankondiging: Emo Adams en Karen Zoid se KKNK Mothership-sessies se speeltydperke is verleng. Hierdie twee musiekkonserte kan nou gekyk word tot en met 23 Augustus.

HOE OM DIE VERTONINGS TE KYK: (Twee maklike stappe!)

Jy koop kaartjies presies soos wat mens ’n kaartjie vir ’n gewone konsert sou koop by WEBTICKETS. (Jy moet ’n profiel skep, en jou kontakbesonderhede invul). Op die aand van die vertoning, skakel jy weer in op WEBTICKETS, gaan na My Account, en kliek dan op My Tickets. Hier sal ’n skakel wees wat 20:00 live gaan. Kliek dan op die skakel – die player sal outomaties oopmaak en jy kan die vertoning kyk.

Watershed, foto: Marilie Loubser

Lewer kommentaar

Leave a Reply