Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Mothership Studios bied vanaf Donderdag 30 Julie tot Donderdag 24 September ’n eksklusiewe musiekreeks aan wat musiekliefhebbers in die gemak en veiligheid van hulle huise kan geniet. Hierdie aanlyn reeks bevat optredes deur van ons land se voorste musikante en vermaaksterre, soos hulle nog nie sedert die nasionale inperking gesien is nie.
“Die KKNK is trots om die Mothership Sessions, ondersteun deur Netwerk24, aan te bied. Dit is vir ons belangrik om steeds in hierdie tyd produksies van hoogstaande gehalte na ons gehore te bring. Elke konsert is ’n besonderse en unieke ervaring, wat deur die vervaardigers van onder meer die Republiek van Zoid Afrika opgeneem is.” So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Theart sê verder dat alhoewel die KKNK nie vanjaar feesgangers op Oudtshoorn kon verwelkom nie, hulle steeds die gees van die fees na gehore se huise kan bring. “Musiekliefhebbers, oud en jonk, gaan beslis hierdie reeks van eksklusiewe optredes geniet. Verskeie musiekgenres – van rock tot country, is ingesluit, gehalte-vermaak vir die hele gesin”, brei hy uit.
Die Mothership Sessions-optredes is in Karen Zoid se studio opgeneem. “Niks sal ’n lewendige konsert in ’n stadion, ’n arena, of in ’n teater kan vervang nie, maar inperking het ons almal forseer om anders na dinge te kyk. Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, dis net anders. Daar sal heel waarskynlik nie weer in die nabye toekoms enige live shows aangebied kan word nie, maar dit verhoed ons nie om steeds musiek vir ons mense te maak nie. Ontvlugting is noodsaaklik vir oorlewing en ek en my musiek-kollegas wil hê mense moet hulle skoene uitskop en vergeet van die pandemie wat ons gedagtes oorheers”, verduidelik Zoid.
Elandré skop die eerste Mothership Sessions-musiekreeks op Donderdag 30 Julie af. Dié boorling van Despatch in die Oos-Kaap het Suid Afrika se harte gesteel met sy debuutalbum Kleindorp-Dromer en sy kenmerkende diep stem. Met ’n vyfstuk-orkes gaan hy skerms aan die brand sing.
“Al kan ons nie tans in ’n teater saamkom nie, sal goeie musiekkonserte altyd sorg vir hoendervleis-oomblikke. Dink maar aan die legendariese musiekopnames van Kurt Cobain, Paul McCartney en Elton John, om ‘n paar te noem, wat dekades later steeds geniet en onthou word. Dit is wat ons met die KKNK Mothership Sessions wil vermag”, sê Carien Loubser, vervaardiger van hierdie musiekreeks. “Ek stel goeie kwaliteitprogramme met top-gehalte tegniese versorging en hoë produksiewaarde hoog op die spel, en ons musiekreeks sal daarom tuis wees tussen enige top-televisiemusiekprogramme. Ons hoop om met tyd al die kunstenaars wat ons Suid-Afrikaanse musieklandskap opmaak, as deel van die Mothership Sessions-reeks op te neem”, sluit Loubser af.
Ander musiekkonserte in hierdie reeks sluit in Emo Adams Unplugged op Donderdag 6 Augustus. Dit is ’n uitsonderlike ervaring met Adams en ’n vierstuk-orkes, waaronder klavier, saksofoon en kitaar. Sy pa, Omar, sluit ook by hom aan vir ‘n liedjie of twee.
’n Besonderse optrede deur Karen Zoid word op Maandag 10 Augustus aangebied. Zoid word vir hierdie optrede – op haar verjaarsdag – begelei deur haar band, asook Theo Crous, hoofkitaarspeler van die legendariese Springbok Nude Girls.
Suid-Afrika se top indie-rockgroep, Watershed (Donderdag 20 Augustus) is een van die land se gewildste uitvoerprodukte. Hulle optrede beloof fantastiese musiek, waaronder ’n hele paar van hulle ikoniese treffers.
Die Afrikaanse liedjieskrywer Jan Blohm (Donderdag 27 Augustus) is te sien in die show van ’n leeftyd: meesleurend, rou en eerlik, net soos sy musiek.
Elvis Blue (Donderdag 3 September) bied ’n sielvolle vertoning aan met van sy gewildste liedjies waaronder Die Hemel, Jou Huis, Toe ons Jonk Was en Lighthouse.
Op Donderdag 10 September betower Anna Davel kykers met ’n musikale reis van akoestiese klavier, saksofoon en melodieë. Sy sing van haar eie liedjies, sowel as musiek deur van die grootste legendes van ons tyd.
Die opkomende ster Roan Ash (Donderdag 17 September) kombineer folk-musiek, blues, countryen rock met sy strelende melodieë en lirieke. Sy platinum-album, Whisky to My Soul, is genomineer vir ’n SAMA in die kategorie Beste Kontemporêre Album.
Op Donderdag 24 September sluit Eet Kreef! die eerste Mothership Sessions op ’n hoë noot af. Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese album word 30 jaar nadat dit oorspronklik uitgereik is gevier. Met aKING se hoofsanger Laudo Liebenberg, ’n vuurwarm band en nuwe verwerkings van ikoniese songs soos Energie, Hillbrow, Hoe ek voel en al die treffers wat van dié plaat ’n kultustreffer gemaak het, sorg hierdie show vir meer as een hoendervleis-oomblik.
Optredes sal elke Donderdagaand aanlyn uitgesaai word en tot daardie Sondag beskikbaar wees om te kyk, met Karen Zoid se konsert op Maandag 10 Augustus. Musiekliefhebbers van regoor die wêreld kan inskakel vir die Mothership Sessions-reeks en elke konsert in hoë-definisie geniet. Kaartjies kos slegs R150 per konsert – vir die hele gesin om saam te geniet – en is beskikbaar op www.webtickets.co.za, vanwaar die optredes ook gekyk kan word op ’n baie gebruikersvriendelike platform.
Musiekliefhebbers kan ook met die aankoop van kaartjies ’n donasie aan die Tribuo-fonds maak. Dié hulpfonds is gestig om betrokkenes in die uitvoerende kunste tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. Meer inligting is beskikbaar op www.kknk.co.za.
