‘n Jong talentvolle klarinet en ghitaarduo skop die 2020 Jong Kunstenaarskonsertreeks af met Soirée Espagnole, by die Erin-saal in Rondebosch op Saterdag 7 Maart 2020 om 19:00.

Goue medalje- en algehele wenner van die 2016 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK), klarinetspeler Cameron Williams en ghitaarspeler, Joshua Frank, span vir die eerste keer kragte saam om meestal Latyns-Amerikaanse en Spaanse werke van gevierde komponiste uit te voer. Die program bevat werke van Astor Piazolla, Manuel de Falla, Enrique Granados and Manuel Ponce, met ‘n paar verrassings.

Cameron het sy BMus in 2019 met onderskeiding aan die Stellenbosch Universiteit (SU) met klarinetuitvoering as hoofvak onder Daniel Prozesky geslaag. Tydens sy studies was hy die hoofklarinetspeler van die US Simfonie- en blaasorkes en studeer saxofoon onder Dr Arisa Voges by die Hugo Lambrechts Musieksentrum.

Joshua, ‘n musikologiedosent by die SU, het pas ‘n meestersgraad in musiek met onderskeiding voltooi. Hy spesialiseer in musiekbegrip en die empiriese studie van musiekemosies. Hy tree gereeld op met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, SU Camerata, Here Be Dragons en Camerata Tinta Barocca op blokfluit, ghitaar en hobo.

Die twee opkomende sterre het met hulle musiekstudies en –opvoerings by die universiteit ontmoet.

Die vurige konsert, aangebied deur die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS), dek die tafel vir die bekendstelling van die 2020 NJMK wat van 6 tot 10 Oktober 2020 by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad, aangebied word.

“Die NJMK lok jaarliks die room van klassieke instrumentaliste tussen die ouderdomme van 14 en 19 om mee te ding vir die kontantpryse van R145 000 en die gesogte goud-, silwer- en bronsmedaljes.

“Sedert die instelling van die konsertreeks het die NJMS reeds drie konserte met welslae aangebied. In di proses het ons blootstelling aan agt opkomende sterre gebied ter volvoering van die stigting se misssie om plaaslike musiektalent te identifiseer, bloot te stel  en te ontwikkel,” sê Michael Maas, voorsitter van die NJMS.

Inskrywingsvorms en die 2020 reëlsbrosjure sal binnekort op die NJMK webwerf www.nymc.co.za gepubliseer word.

“Die intieme 100-sitplek Erin-saal is ‘n perfekte lokaal om musiekemosies wat van die stil tot die vurige wissel aan te wakker en die gehoor die kans bied om musiek van Spaanse, Latyns-Amerikaanse en ander tradisies te ervaar,” sê Cameron en Joshua geesdriftig.

Onbespreekte sitplekke kos R120 en R70 vir studente, leerders en pensioentrekkers van Computicket by 0861 915 8000 of by die deur. Gratis wyn of sap is by die prys ingesluit.

Joshua Frank en Cameron Williams

Lewer kommentaar

Leave a Reply