Een van Suid-Afrika se invloedrykste musiekkompetisies, die jaarlikse Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) is gereed om in 2021 te hervat.

     Die kompetisie moes vanjaar weens die wêreldwye Covid-19 pendemie gekanselleer word.

     Die luisterryke kompetisie vir klassieke instrumentaliste tussen die ouderdom van 14 en 19 jaar skuif volgende jaar na ‘n vroeër tydgleuf. Die wedstryd met pryse van R145 000, ‘n goue, silwer en bronsmedaljes was gewoonlik in die Eerste of tweede week van Oktober aangebied.

     Die 2021 NJMK sal nou van 3 tot 7 Augustus 2021 by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad, aangebied word. Voornemende deelnemers kan in vyf kategorieë meeding – Klavier, Strykinstrumente, Houtblaasinstrumente, Koperblaasinstrumente en Ander wat instrumente soos harp en slagwerk insluit.

     Die sluitingsdatum vir die kompetisie wat deur die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS) aangebied word, is 29 Maart 2021. Die voornemende kandidate moet dan oudisievideos vir die keuringsronde deur ‘n paneel van gesiene musiekkundiges voorlê.

     Die kompetisie is die vlagskip van die NJMS oder voorsitterskap van Michael Maas, wie die kompetisie 36 jaar gelede in Port Elizabeth begin het.

     “Ons is verheug dat dié vlagskip weer seil,” sê Maas geesdriftig. “Die NJMS hou die ontwikkelinge rondom Covid-19 fyn dop. Ons is gereed vir enige opslagballe wat uit die pandemie voortvloei.”

     Die NJMK word beskryf as een van die strafste musiekkompetisies in Suid-Afrika. Die kompetisie vereis stamina, tegniese uitmuntendheid en sterk vertolkingsvermoeëns. Die jong deelnemers wedywer oor vier rondes waartydens hulle ‘n wye repertoire van werke uit verskillende styltydperke moet speel.

     Meer as 100 verskillende werke word gewoonlik oor die vier rondes van die kompetisie uitgevoer.

     “Deur die registrasie voor die Desember-feesseisoen te open, glo ons dat voornemende kandidate die vakansie kan gebruik om hulle musikale vaardighede te slyp,” sê Maas.

     Die reels vir volgende jaar se wedstryd kan op die NJMK se webtuiste gelees word by https://nymc.co.za/competition-information.php. Die inskryfvorm kan by https://nymc.co.za/entry/entry.php word.

Nasionale Jeugmusiekkompetisie
Nasionale Jeugmusiekkompetisie

Lewer kommentaar

Leave a Reply