Vyftienduisend mense het op Saterdag 2 Augustus een van die mees epiese feesdae van Afrikaanse musiek beleef. Dit is `n instelling dat van ons land se mees gewilde kunstenaars elke jaar hierdie tyd by Liefde by die Dam op die Flying Fish tapyt voor `n groot skare by Emmarentia Dam optree. Die unieke liefde-tema- feesontwerp met allerlei opblaas eende, hartjies-lekkergoed en selfs `n reuse geïnstalleerde verloofring, is eie aan sy soort.

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en ook een van die hooforganiseerders van die Liefde by die Dam-konsertreeks sê: “Die produksie was op `n enorme skaal en die verloop van die dag was alles wat ons span voor kon gevra het: sonnig, besig, vlot en vol liefde en gees. Seker my gunsteling ene nog!”

Kaartjies vir dié fees, wat sedert 2016 al groot aftrek kry in Johannesburg, verkoop elke jaar blitsvinnig uit. Dit was wéér vanjaar so: al die kaartjies vir Liefde by die Dam Johannesburg, was reeds in Mei-maand binne 3 ure opgeraap.

Wilma van Heerden, Henru & Scwabie, Eloff, Jay, Appel, Karlien van Jaarsveld, Danny Smoke, Die Piesangskille, Kurt Darren, Robbie Wessels, Riaan Benadé, Die beste band in die wêreld ooit, Die Heuwels Fantasties. Jack Parow, Francois van Coke en Early B was deel van vanjaar se program. Bobby Van Jaarsveld, Bobbejan en VAN PLETZEN was vanjaar die kunstenaars wat, tot groot gejuig van die skare, as verrassings opgetree het.

Kompetisies en aktiverings deur Liefde by die Dam se onderskeidelike borge Flying FishZARbet, Naked en We Buy Cars het ook bygedra om `n paar gelukkige feesgangers `n kans te gee om `n top-feeservaring te geniet deur middel van sekere BBP voordele. Liefde by die Dam se media- vennoot kykNET, het ook `n opwindende aktivering na die feesveld gebring: jong dames kon by die fees oudisie vir die vierde reeks van die gewilde realiteitsprogram Op my eish! 

Vanjaar is die winter bitter koud. Oudergewoonte is dit tradisie om feeskomberse na die afloop van die konsert op die veld agter te laat. Moeggesukkel ( https://moeggesukkel.co.za/ ) het na afloop van die fees `n groot hoop komberse ingesamel en sal seker maak dat dit aan behoeftige mense geskenk word.

Greeff sê “Baie dankie aan almal wat daar was, asook die kunstenaars, ons borge en elke persoon in die span op die veld. Dit was een vir die boeke. Volgende jaar is Liefde by die Dam 10 jaar oud. Dit gaan super spesiaal wees!”

Liefde by die Dam word ook op 1 November by Meerendal in Kaapstad aangebied en Liefde by die Nam op 4 Oktober by Vegkop in Windhoek. Kaartjies by Ticketmaster.

Jack Parow
Jack Parow, foto: Wayde Flowerday

Lewer kommentaar

Leave a Reply