Goeie nuus vir musiekliefhebbers in Kaapstad! Die immergewilde Liefde by die Dam konsert wat elke jaar by Emmarentia Dam in Johannesburg aangebied word, maak ook vanjaar `n draai in die Wes-Kaap.

Liefde By Die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam, strewe daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud,`n ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of `n lekker dag uit saam met jou “besties.”

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties, ook een van die organiseerders van Liefde by die Dam, sê: “Dit is uiteindelik tyd om ons dag vol musiek, goeie kos en samesyn ook Kaap toe te bring. Bring jou mense en kom en geniet die dag saam met ons by Meerendal met die wynlande en berge as prentjiemooi agtergrond.”

Agt bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars en groepe gaan by die piekniek-styl konsert optree. Seremoniemeester Schalk Bezuidenhout gaan die program se verloop met ligte vermaak bymekaar hou.

Wimpie van der Sandt, Hoof Uitvoerende Beampte Bok Radio, sê dat dit vir hulle `n maklike besluit was om betrokke te raak: “Ons het die laaste drie jaar stelselmatig ons musiek formaat begin aanpas om tred te hou met die veranderinge in die Suid-Afrikaanse musiek bedryf. Daar is die afgelope tyd ‘n duidelike kopskuif in die musiek bedryf gewees en ou gunstelinge soos Valiant Swart en Koos Kombuis is baie gewild onder ons luisteraars. Francois van Coke, Die Heuwels en Sunset Sweatshop is almal voormalige Wes-Kaapse Bokkie wenners. Ons hou van die manier wat die manne werk en ons sien uit na ‘n lekker show by Meerendal met die top name in Suid-Afrikaanse musiek!”

Liefde by die Dam gaan ook hand aan hand met `n bietjie liefde gee. Liefde Wen samel na die afloop van die konsert komberse in vir minderbevoorregtes. Greeff sê: “Ons help graag ander; bring jou kombers en los dit na die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis.” Die konsert in Johannesburg het vanjaar om en by 800 komberse ingesamel.

So in die gees van gee, wat dink die kunstenaars? Hoe kan mense nog meer liefde uitdeel?

“Mens moet jouself leer liefkry heel eerste. dan kan jy ander mense liefkry. Ons het grootgeword in ‘n kultuur waar ons van kleins af geleer is om onsself te ontken en misken, en skuldig te voel oor wie ons is.” – Koos Kombuis.

“Soen die ou of die vrou langs jou.” Francois van Coke.

Wees net nice. Dis so maklik soos dit. Dis minder moeite en lekkerder vir almal.” Schalk Bezuidenhout.

Daar het jy dit. Mag Liefde bly wen! Kom deel in `n heerlike, gesellige musiek-dag by die dam – bring piekniek mandjies. Daar sal ook `n verskeidenheid kosstalletjies wees.

Kaartjies: R195 by Computicket: http://bit.ly/LBDDCPTTkts
Kinders 12 jaar en onder: R75.

Spesiale kaartjie aanbieding:

Early Bird – R95.

VIP kaartjies: R495 – sluit VIP ingang, spesiale sitplekke naby verhoog, gratis drankies en versnapperinge.

Lewer kommentaar

Leave a Reply