Die immergewilde Liefde by die Dam konsert wat elke jaar by Emmarentia Dam in Johannesburg aangebied word, maak ook vanjaar `n draai in die Wes-Kaap.
Liefde By Die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam, strewe daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud,`n ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of `n lekker dag uit saam met jou “besties.”
Agt bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars en groepe gaan by die piekniek-styl konsert optree. Seremoniemeester Schalk Bezuidenhout gaan die program se verloop met ligte vermaak bymekaar hou. Die program vir die konsert lyk so:
Saterdag 17 November, Meerendal, Durbanville.
11h00 – Sunset Sweatshop.
11h45 – Tarryn Lamb.
12h30 – Early B.
13h15 – Koos Kombuis.
14h15 – Spoegwolf.
15h15 – Die Heuwels Fantasties.
16h15 – Valiant Swart.
17h15 – Francois van Coke.
Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties, ook een van die organiseerders van Liefde by die Dam, sê: “Dit is uiteindelik tyd om ons dag vol musiek, goeie kos en samesyn ook Kaap toe te bring. Bring jou mense en kom en geniet die dag saam met ons by Meerendal met die wynlande en berge as prentjiemooi agtergrond.”
Wimpie van der Sandt, Hoof Uitvoerende Beampte Bok Radio, sê dat dit vir hulle `n maklike besluit was om betrokke te raak: “Ons het die laaste drie jaar stelselmatig ons musiek formaat begin aanpas om tred te hou met die veranderinge in die Suid-Afrikaanse musiek bedryf. Daar is die afgelope tyd ‘n duidelike kopskuif in die musiek bedryf gewees en ou gunstelinge soos Valiant Swart en Koos Kombuis is baie gewild onder ons luisteraars. Francois van Coke, Die Heuwels en Sunset Sweatshop is almal voormalige Wes-Kaapse Bokkie wenners. Sunset Sweatshop het vanjaar hulle tweede Bokkie toekenning ingepalm vir Band van die jaar. Tarryn Lamb het ook vanjaar met die gesogte Sangeres van die jaar Bokkie weggestap en hulle is almal ook by die show te sien. Ons hou van die manier wat die manne werk en ons sien uit na ‘n lekker show by Meerendal met die top name in Suid-Afrikaanse musiek!”
Liefde by die Dam gaan ook hand aan hand met `n bietjie liefde gee. Liefde Wen samel na die afloop van die konsert komberse in vir minderbevoorregtes. Greeff sê: “Ons help graag ander; bring jou kombers en los dit na die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis.” Die konsert in Johannesburg het vanjaar om en by 800 komberse ingesamel.
Daar het jy dit. Mag Liefde bly wen! Kom deel in `n heerlike, gesellige musiek-dag by die dam – bring piekniek mandjies. Daar sal ook `n verskeidenheid kosstalletjies wees.
Kaartjies: R195 by Computicket: http://bit.ly/LBDDCPTTkts
Kinders 12 jaar en onder: R75.