Miriam Makeba

Miriam Makeba, of soos sy bekend was, Mama Afrika, het gister aan ‘n hartaanval beswyk. Sy was 76.

Miriam Makeba se volle name was Zenzile Makeba Qgwashu Nguvama Yiketheli Nxgowa Bantana Balomzi Xa Ufun Ubajabulisa Ubaphekeli Mbiza Yotshwala Sithi Xa Saku Qgiba Ukutja Sithathe Izitsha Sizi Khabe Singama Lawu Singama Qgwashu Singama Nqamla Nqgithi. Sy is in Johannesburg gebore in 1932.

Miriam Makeba was nie net ‘n sangeres nie, maar ook ‘n vurige kampvegter teen Apartheid. Sy is in 1963 van haar burgerskap ontneem nadat sy by die Verenigde Nasies teen die Suid-Afrikaanse regering getuig het.

Makeba se sangloopbaan het in 1950 begin saam met die Manhattan Brothers. Dit was egter eers na haar verskyning in die dokumentêr Come Back, Africa in 1959 dat sy wêreldwyd bekend geraak het. In dieselfde jaar was sy ook in die musiekblyspel King Kong saam met die bekende musikant Hugh Masekela, met wie sy later sou trou.

In 1966 het sy ‘n Grammy-toekenning ontvang vir haar album saam met Harry Belafonte, An Evening With Belafonte/Makeba (1965). Sy is ook in 2000 vir ‘n grammy benoem vir haar album Homeland (2000).

In 1974 was sy een van die kunstenaars by die Rumble in the Jungle, die bekende boksgeveg tussen Muhammad Ali en George Foreman in Zaïre (vandag die Kongo).

Miriam Makeba het ere-burgerskap van 10 lande gehad en was op ‘n tyd Guinee se verteenwoordiger by die Verenigde Nasies.

Sy is oorlede in Castel Volturno in Italië, kort na afloop van ‘n konsert ter ondersteuning van die skrywer Roberto Saviano en sy stryd teen die mafia.

Miriam Makeba
Miriam Makeba

(foto Mark Oppenheimer)

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply