FRANSCHHOEK – Hier is nou ’n geleentheid om jou Boerboel-broekie uit te trek en jou linnebaadjie af te stof: die Montreux Jazz Festival Franschhoek het hul eerste speellys aangekondig.

Nee, dis nie net nog ’n kom-ons-hou-’n-konsert-tussen-die-wingerde-affêre nie. Dis Montreux. Die aankondiging lees soos ’n diplomatieke verklaring vir musiek: artistieke diepte, globale uitruiling en … hou vas … Afrika-uitnemendheid. Met ander woorde, minder glitter kanonne, meer gravitas. Minder TikTok, meer trompet wat jou emosioneel herkalibreer.

Hierdie kunstenaars is nie ligte musiek nie: Billy Monama se Guitar Convergence saam met Moss Mogale en die ikoniese Vusi Mahlasela het snare wat stories kan vertel. Kesivan Naidoo, ’n man wat dromme laat klink soos ’n filosofiese debat. Kwanti Leeh! voeg ’n skeut jong, kontemporêre bravade by, terwyl Madala Kunene, Sibusile Xaba en Mandisi Dyantyis hul eie unieke toorgoed bring.

En laaste, maar nie die minste nie: Salif Keita. As daar ’n koninklike klankbaan vir die son self was, sou dit waarskynlik deur Salif Keita gesing word – ja, dié “Goue Stem van Afrika” wat koninklike bloed verruil het vir koninklike note. Gebore in Mali se adelstand, maar verban oor sy albinisme, het hy besluit: reg so, dan regeer ek maar met musiek.

Keita meng tradisionele Mandinka-ritmes met wêreldmusiek soos ’n sjef wat Michelin-sterre versamel. Deur sy sang herinner hy ons dat ware glans nie blink nie, dit resoneer.

Hierdie is nie ’n fees wat probeer groot wees nie; dit probeer betekenisvol wees. Dis ’n hoflike knik voor die gode van musiek eerder as ’n kommersiële geskreeu. ’n Program wat generasies, lande en tale oorbrug.

Drie dae in Franschhoek, van 27 tot 29 Maart 2026. Kaartjies is beskikbaar by Ticketmaster – want selfs artistieke diepte moet deur ’n aanlyn betaalportaal gaan.

Montreux het geland.

Salif Keita
Salif Keita

Lewer kommentaar

Leave a Reply