WGRUV (uitgespreek W-Groove) skop 2026 af met ’n dramatiese terugkeer na die Roodepoort Teater (9–12 April) en daarna die Mandela Bay Teaterkompleks (30 April–2 Mei) met hul nuwe produksie Juxtapose.
Hier word die menslike liggaam onder spanning geplaas: fisiek, emosioneel en simbolies. Die aand open met Human Exposure deur Holly Gruver, waar kwesbaarheid met styl belig word en isolasie dramaties plek maak vir konneksie.
Not Forgotten deur Lex Gruver delf in geskiedenis wat swyg en onderdrukte rou – ’n elegie vir dié wat verdwyn het, maar steeds die kamer vul. Dan skuif Rooms Rewired die fokus wee na binne: identiteit word uitgetrek, aangepas en weer aangetrek, met die danser Vuyelwa Phota as mede-argitek van die transformasie.
Waxing Moon deur die internasionale choreograaf Robyn Mineko Williams kom laaste aan die beurt – ’n sagte ontplooiing van groei wat stadig blom.
Kaartjies kos tussen R99 en R300.

