Dis nuut en vars en dit is opwindend hoe die Paarl se TopWineRoots Laailou Musiekfees, in samewerking met Bok Radio, oornag ‘n huishoudelike naam en volksbesit geword het.
Vir feesstigters, Corné Pretorius en Wynand de Villiers, was die resonansie van die naam belangrik, maar meer belangrik was dat die naam die regte toon daarstel, en al die elemente van die fees omarm: Die onderskeidende kristalhelder element is natuurlik dat jy die fees op jou laailou kan aanskou.
Jou laailou is daardie opblaas-dryflêding wat jy gewoonlik net in Desembers uithaal. Hierdie Maart gaan feesgangers hul laailous aandra na die Bergrivier-oord in die Paarl vir een van die beste line-ups van kunstenaars wat die Wes-Kaap in jare gesien het. Karlien van Jaarsveld, Spoegwolf, Early B, Jan Bloukaas, Janie Bay, Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Corné Pretorius, Jan Bloukaas en nog vele meer sal feesgangers diep die langnaweek in laat feesvier en dans.
“Ons glo die line-up is uitsonderlik, maar vir ons is die setting van die fees en die vibe wat ons wil skep die groot onderskeidingselemente van die fees. Die Bergrivier-oord is absoluut geskik vir die aanbieding van ‘n baie unieke fees met twee sitplek-keuses, en byna die hele oord is onder ‘n wonderlike skadubedekking van ou bome.” sê De Villiers.
“Dis ‘n fees met ‘n verskil. Jy kan die konserte kyk terwyl jy in die Bergrivier op jou laailou ronddryf of sommer van die gemak van jou kampstoel onder die bome in die feesterein.
Paarl het histories nie ‘n hoeksteen fees soos baie ander dorpe in Suid-Afrika het nie, en daar is baie rolspelers in die Paarl, sowel as Drakenstein Munisipaliteit, wat die fees nou uitgesonder het as `n fees waarmee die Paarl in die toekoms vereenselwig wil word. Ons is bevoorreg om soveel ondersteuning vir die eerste uitgawe van die fees te hê, nie net van die stadsvaders af nie, maar ook van korporatiewe borge soos TopWineRoots en Bok Radio.” sê De Villiers.
Die verhoog by die fees word met ‘n 270 grade gehoor-radius opgestel sodat dit toeskouers in die rivier op hul laailous sowel as toeskouers op hul kampstoele in die kampeer-feesterein bedien. Die Bergrivieroord het pragtige staanplek vir tente asook luukse staanplek vir karavane. Bring jou laailou, bring jou kampstoel!
Kaartjies is te koop by https://itickets.co.za/events/462003 en beperk tot 2000 per dag.
Vir al die feesbesonderhede en die feesprogram gaan na www.laailoufees.co.za Vir kampplekbesprekings by die Bergrivier-oord gaan na www.bergriverresort.co.za
